Gedagte vir die dag: Moenie twyfel nie

Jakobus 1:6-8 – ’n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag word en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Mense wat dinge van God vra, moet gelowig bid sonder om te twyfel, skryf Jakobus. Twyfelaars is soos branders wat deur die wind aangejaag word, en hulle moenie dink dat hulle gebede verhoor sal word nie.
Dit is egter nie so maklik om te bid en te glo dat God jou gebede sal verhoor nie, juis omdat almal van ons al uit ervaring ondervind het dat God nie al ons gebede verhoor nie. Jakobus skryf egter oor ’n spesifieke gebedsversoek: dié een om wysheid in beproewing.

Daar is sekere dinge wat ’n mens met vrymoedigheid van God kan vra met die seker wete dat Hy daardie gebede sal verhoor omdat jy in lyn met sy wil bid. God wil graag sy wysheid aan sy kinders oordra sodat ons kan weet hoe Hy wil hê dat ons sal lewe. Waak net teen selfsugtige gebede, want God gaan dit nie beantwoord nie. “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jakobus 4:3). Hou dus jou gebede vry van selfsug, dan sal God hulle beantwoord.

Gebed: Here, ek bid om u wysheid in my lewe sodat ek nie net sal weet hoe om te bid nie, maar ook my twyfel sal kan hokslaan. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.