Gedagte vir die dag: Moet jou nie bekommer nie

Psalm 3:6 – In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en rondrol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker, want ek weet die Here sal my krag gee om my probleme op te los.

Die grootste siekte van ons tyd noem ek doodgewoon worry sickness. Dis asof dit in die mode geraak het om jou oor alles en almal te bekommer. Mense slaap sleg en lê en rondrol in die nag. Dit alles terwyl die Here vir ons op verskeie plekke in die Bybel verseker dat Hy lewe en dat Hy in beheer is. Kom ons wees ook baie eerlik met mekaar: Die lewe vandag is nie maklik nie. Daar is baie uitdagings en groot verantwoordelikhede wat jou emosioneel kan dooddruk as jy dit nie reg hanteer nie. Een van die gevolge van bekommernis is juis dat jy altyd moeg is en selfs kort van draad en nie baie aangenaam om mee saam te leef nie. God leef! Jesus het opgestaan! Hy noem jou sy kind en Hy buig af na jou. Hy is jou Vader wat sorg. Dalk is dit enkele van die waarhede wat jy gereeld moet herhaal as jy in een of ander stres-spasma in- gaan. Dalk is dit tyd dat jy werklik oorgee aan en weggee in sy veilige hande.

Gebed: Dankie dat U my hemelse Vader is. Dankie dat U elke dag in beheer is en vir my sorg. Dankie dat ek in U en by U kan rus.

Moenie probeer verwag of jou bekommer oor wat dalk kan gebeur nie. Lewe in sonlig. –  Benjamin Franklin

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.