Gedagte vir die dag: Moet jou nie vergelyk nie

Psalm 49:13, 14, 20 – Nie eens die grootste rykdom verseker ʼn lang lewe nie. Op die ou end gaan ons almal dood, net soos die diere in die veld. Die dood wag vir mense wat op hulself vertrou, vir mense wat baie van hulself dink. Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit. Net soos almal voor hulle gaan hulle dood. En in die graf sien hulle nooit weer die lug nie.

Ek is bekend daarvoor dat ek mense elke dag waarsku teen die een speletjie wat geen wenners oplewer nie, naamlik die vergelyk-speletjie. Jy sal jou altyd vergelyk met iemand wat mooier, ryker, vinniger, maerder en slimmer is as jy. Jy gaan nooit wen nie – niemand gaan nie. Jy voel net onvergenoeg en ontevrede, terwyl God wil hê ons moet lewens van dankbaarheid en tevredenheid lei. Hierdie Psalm gaan juis daaroor. Daar is goddelose mense wat van God niks wil weet nie en tog lyk dit asof dit goed gaan met hulle. Hulle lyk so gelukkig en besit alles wat ʼn mens se hart kan begeer. God wil hê sy kinders moet met ʼn ewigheidsperspektief leef. Hulle moet vry wees van geld en besittings. Dis tydelike dinge wat jy nie eendag as jy doodgaan saam met jou die ewigheid kan inneem nie. Dan is dit niks werd nie. Een ding waarvan ons almal seker is, is dat ons gaan doodgaan. Ja, ons gaan eendag die tydelike lewe aflê en dan vir ewig iewers anders wees. Goddelose mense leef vir nou en gee nie om vir God nie. Hulle uiteinde is die doderyk. Al die energie om geld en besittings bymekaar te maak lei tot niks en is dolleeg. Leef jy anders: Leef vir God en met ʼn ewigheidsperspektief. Dan sal jy besef daar is belangriker dinge in die lewe as geld en besittings.

Gebed: Here, ek wil myself nie langer met ander se geld en besittings vergelyk nie. Gee my die krag om met ʼn ewigheidsperspektief te leef en werklik hier en nou ʼn verskil te maak.

God word nooit moeg van gee nie. – William Still 

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.