Gedagte vir die dag: ‘n Gas aan huis

Luk. 7:36 – “Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem”.

Jesus bevind Hom hier in die huis van ʼn Fariseër. Ons weet nie in watter dorp dit was nie, maar die kans is goed dat dit Kapernaum was. So pas is Hy daarvan beskuldig dat Hy ʼn vraat en ʼn wynsuiper is, ʼn vriend van tollenaars en sondaars (Luk. 7:34) en nou is Hy deur hierdie Fariseër, ʼn geëerde en gerespekteerde man wat baie op sy goeie naam gesteld was (Luk. 7:39), vir ete na sy huis genooi.

ʼn Mens kan maar net wonder oor die motief agter hierdie uitnodiging. Wanneer jy die hele verhaal lees, is dit duidelik dat dit nié ʼn daad van opregte vriendskap en liefde was nie, want die Fariseër betoon aan Hom geen tekens van liefde en welwillendheid nie.

Dalk was dit blote nuuskierigheid. Die Fariseër het immers baie van hierdie Jesus gehoor en sou graag meer oor Hom wou uitvind. Dalk was dit om sy aansien te verhoog. Dit is ʼn bekende en aanvaarde praktyk dat mense wat graag naam wil maak, gesellighede bywoon waar hulle geassosieer kan word met bekendes en beroemdes. Dit help baie om deure vir jou oop te maak as jy van sekere verbintenisse gebruik kan maak en sekere name kan noem!

Dalk het hierdie Fariseër duister motiewe gehad en wou hy die geleentheid gebruik om moontlike getuienis en bewyse in te samel om teen Jesus te gebruik. Ons sal nooit weet wat sy ware motiewe was nie. Die feit bly staan dat Jesus egter die uitnodiging aanvaar het. Trouens, ek kan nie onthou dat Jesus ooit ʼn uitnodiging van die hand gewys het nie.

Gebed: “Here, ook ek het die behoefte dat U in my huis sal wees. Laat my motiewe tog suiwer wees. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.