Gedagte vir die dag: ‘n Geknakte riet

Skrifgedeelte: “’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie” (Matt. 12:20).

Nadat Jesus weer eens ʼn paar siekes gesond gemaak het, herinner sy optrede Matteus aan die profetiese woorde van Jesaja 42:3 wat heenwys na die deernis van die Dienaar van die Here, sy Geliefde, die Gesalfde. Toe Jesus siek mense en dié met smart en pyn gesond gemaak het, was dit vir Matteus ʼn vervulling van hierdie profesie: “ʼn Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie.”

Jesus is die groot Heelmaker, nie een wat breek nie. Hy is die Bemoediger, nie een wat ontmoedig nie. Hy is die Een wat genade en hoop bring vir die ellendigste mens en vir diegene wat geen hoop meer het nie. Hy is die Een wat gevul is met teerheid vir die swakke, kindertjies, die gebrokenes en vermoeides.

ʼn Geknakte riet – wat beteken so ʼn riet tog? Wie sal enige deernis vir ’n geknakte riet hê? Hierdie uitdrukking beklemtoon egter juis die omgee en teerheid van Christus. Sy teerheid doen geen afbreek aan sy mag en krag nie. Teerheid is geen teken van swakheid nie – dit is iets wat ons almal, en veral mans, gerus kan onthou.

Miskien is dit vir jou moeilik om God en teerheid bymekaar uit te bring. Daar is so baie van ons wat ʼn verkeerde, ʼn skewe beeld van God het. Sommige sien Hom as ʼn hartelose toesighouer met ʼn sweep in die hand en wat net soek na ʼn geleentheid om ʼn hou in te kry. Nee, hierdie woorde in Matteus openbaar iets van die hart en wese van God. ʼn Riet is in die Bybel dikwels ʼn simbool van swakheid en daarom ʼn beeld van die mens – ons wat so kwesbaar en broos is. Vir my en jou wat so bewend en swak is en soms in die stormwinde van die lewe geknak word, is daar by Hom genade.

Gebed: Dankie Here, dat U my in my gebrokenheid en swakheid nie verwerp nie. Amen.

Outeur: Isak Burger : President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.