Gedagte vir die dag: ’n Gereelde rusdag

Eksodus 20:8-11:
Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Egipte was vir die Israeliete sinoniem met slaaf-wees, sonder enige genade of rus. Toe hulle vrygemaak is, is hulle die kans gegun om die skeppingsorde te geniet: ses dae werk en een dag rus. Soos God gedoen het. Daar is ʼn ritme in die skepping ingebou ter wille van die mens. Werk word gesien as kultuuropdrag – om alles wat God geskep het te versorg en daarna om te sien. Rus is ʼn geleentheid vir asem-skep.

Die Here se rus het nie niks-doen beteken nie. Hy het die skepping voltooi en was dus net anders besig – deur te onderhou, versorg en om te gee. Dis die mens se voorreg en reg om ook te kan rus van sy normale, alledaagse bedrywighede en anders besig te wees.

Ons sien vandag soveel wrakke langs die lewenspad omdat ons teen so ʼn geweldige tempo voortsnel en jaag om alles ingepas te kry. In baie gevalle word soveel aangepak om ʼn gemakliker lewe te kan geniet. Die ironie is dat ons soms só besig is, dat ons juis nie kans kry om enigiets daarvan te geniet nie!

Daar bestaan verskil van opinie oor watter dag van die week hier bedoel word. Sommige meen dat die dag nie saak maak nie: na ses dae se werk word op die sewende gerus. Ander hou by die Ou Testamentiese Sabbatsgebod wat die sewende dag van ons week, naamlik Saterdag, is. Vir die meerderheid christene geld die eerste dag van die week, Sondag, as rusdag omdat dit die opstandingsdag herdenk.

Hoe dit ook al verstaan word, ons is dit aan die Here, onsself en mekaar verantwoordelik om te rus – fisies, psigies, emosioneel en spiritueel.

Gun jouself ’n blaaskans.

Gebed: Hemelse Vader, help my om ook die rus te geniet wat U my gun. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Etienne ·

“Vir die meerderheid christene geld die eerste dag van die week, Sondag, as rusdag omdat dit die opstandingsdag herdenk.”
Hoeveel maal het die opstanding dan plaasgevind dat dit elke week ‘herdenk’ moet word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.