Gedagte vir die dag: ‘n Geskenk vir God

Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? Psalm 116:12

Met Kersfees, verjaardae en ander spesiale geleenthede hou ons daarvan om geskenke te gee of te ontvang.  Dit is ons manier om ons liefde en waardering vir mekaar te wys.

Die skrywe van hierdie Psalm het ‘n probleem.  Nadat hy al die seëninge wat hy van die Here ontvang, gelys het vra hy die vraag: Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?

Dit is ‘n goeie vraag, een wat ons ook vir onsself behoort te vra. Wat kan ons die Here bied vir al die seëninge wat ons van Hom ontvang? Indien ons ‘n lys maak van al ons seëninge sal elkeen se lysie verskil.  Want die Here is ‘n persoonlike Verlosser en Hy handel met elkeen van ons op ‘n een tot een basis.

Sommige seëninge wat op ons se lysies sal verskyn is dat ons ‘n hemelse Vader het wat genadig en goed is, vol deernis en wat na ons gebede luister, ‘n Verlosser wat sy lewe vir ons gegee het en ‘n Heilige Gees van wie ons krag en inspirasie ontvang.

Dit is wanneer dit oor ons persoonlike omstandighede handel, dat ons lysies sal verskil.  Ons sal egter op die ou einde almal dieselfde vraag vra: ” Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?”

Ons kan die Here onvoorwaardelik liefhê; “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.”  (Matteus 22:37)

Ons kan ook vir Hom wys dat ons liefde eg is deur Hom te gehoorsaam. “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15)

Ons kan ons liefde bewys deur ons geloof in Hom en deur Hom volkome te vertrou.  “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (Hebreërs 11:6)

Miskien is deur so te leef dat God ons eendag sal kan verwelkom met die woorde: “Welkom goeie en getroue dienskneg,” die grootste geskenk wat ek en jy aan God kan gee.

Gebed:Hemelse Vader, ons dank U vir al die seëninge wat ons van U ontvang. Help ons om tot u eer en verheerliking te leef.  In die Naam van Jesus Christus, ons Verlosser. Amen.

Bron:Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Sal ons ooit daarin slaag om God ter wille te wees – nee, nooit want ons sondige natuur verhoed ons om God te behaag. Dis slegs maar Sy genade en liefde wat dit vir ons moontlik maak om eendag Sy Koninkryk te kan betree.

Dankie Here dat U ons altyd genadig is !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.