Gedagte vir die dag: ‘n Huis van gebed

praying-handsMark 11:17: “Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: Staan daar nie geskrywe: My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”

Tydens ‘n besoek aan die tempel, keer Jesus die tafels en stoele om van die geldwisselaars en handelaars wat in die tempel besigheid bedryf. Die geldgierigheid van die Jode het dit vir mense moeilik gemaak om in die tempel te aanbid, maar meer nog, hulle sélf was ook nie meer besig met ware godsdiens nie. So verblind was hulle dat hulle nie eers kon onderskei dat die Messias onder hulle beweeg, werk en bedien nie, daarom sê Jesus:”..My huis sal ‘n huis van gebed wees….maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.”

Jesus se woorde sluit aan by Jeremia se preek vir die Israeliete in Jer 7:3-11. Die volk se lewens en dade is nie reg nie (v5) – hulle doen mense onreg aan, dien ander gode, hulle steel, pleeg egbreuk en lê vals ede af. Maar die ergste is dat hulle steeds dink hulle is onaantasbaar solank hulle God in die tempel dien (v9-11). Daarom vra Hy: “Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle ‘n rowerspelonk geword? “(v12)

Na Jesus se dood en opstanding is die tempel van God egter nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar mense – mense wat deur hulle geloof in Jesus Christus nou Sy tempel geword het: ” Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? (1Kor 3:16). Ja, mense het God se huis, nee, Sy tempel geword!

As ons dan Sy tempels is, wat sê vandag se Skrifgedeeltes vir ons? Ons moet in ons diepste wese mense van gebed wees. Gesprek met Hom behoort ‘n integrale deel te wees van elke klein besonderheid van ons lewens. Gebedsmense kan nie anders as om in integriteit en eerlikheid voor Hom te leef nie. Ons godsdiensbeoefening moet ‘n bevestiging wees van ons intieme verhouding vanuit die gees en hart met Hom – dit mag nooit afgewater word na godsdienstige rituele nie.

Gebed is tweerigting kommunikasie – ek praat met God, maar Hy praat veral met my. Sy praat met my het altyd verandering in my lewe tot gevolg omdat Hy voortdurend deur sy Gees besig is om dié dinge aan my uit te wys wat Sy tempel ontreinig en verhinder dat my wil volkome aan Sy wil onderworpe is.

Gebed: My Vader, dankie vir U betrokkenheid in my lewe. Mag ek elke dag so intens bewus wees van u inspraak in my lewe dat elke greintjie van my menswees sal reageer wanneer U selfs net vir my fluister. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.