Gedagte vir die dag: ‘n Rokende lamppit

Skrif: “’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie” (Matt. 12:20).

ʼn Lamppit begin rook wanneer die olie in die lamp opraak. Dan moet ’n mens nuwe olie ingooi en die pit effens knip om die lampie weer helder te laat brand. As jy dit nie doen nie, raak die lamp net ʼn irritasie, want in plaas daarvan om lig te gee, laat dit die oë en neuse van die mense in die vertrek brand.

Soos die beeld van ʼn geknakte riet, is die beeld van ʼn rokende lamppit een wat dui op ’n mens wat die einde van ʼn pad bereik het. Jou liggie brand maar flou; jou geestelike olie is min; jou “rook” bloot ʼn irritasie.

In die Bybel is olie dikwels simbolies van die Heilige Gees en sy werk in mense se lewe. Alhoewel ons kwalik kwantitatief aan mense óf aan die Heilige Gees kan dink, is dit tog moontlik dat mense oor ʼn tyd heen geestelik kan verarm, in die genade kan veragter, en dat daar al minder van God se teenwoordigheid en werk in hul lewe sigbaar kan wees. Daar is meer as een term wat Jesus self gebruik om so ʼn toestand te beskryf. Vir die gemeente in Efese het Hy gesê: “Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie” (Op. 2:4). Die gemeente in Laodisea is weer aangekla omdat hulle “lou” geword het (Op. 3:16).

Dalk gebruik die Heilige Gees hierdie woorde in jou lewe sodat jy ʼn geestelike prentjie van jouself kan sien – ʼn rokende lampie; olie wat min geword het; liefde wat afgeneem het; geestelike vuur wat afgekoel het. Dan is dit goed om te weet: Jesus wil jou lamppit skoonmaak en jou lamp weer vol olie maak sodat jy helder en warm kan brand.

Gebed: “Here, ek kom na U toe met my rokende lamppit. Maak my asseblief weer skoon en vul my met u Gees. Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons raak dikwels rokende lamppitte vanweë ‘n gebrek aan geestelike olie – en dan verflou ons in ons ywer om kerklik meelewend te wees, goed te doen aan sorgbehoewendes en onderskragend te wees aan ons medemens.

Hierdie oordenking is egter inspirerend is maak ons bewus daarvan dat God altyd bereid is om ons weer te vul met “geestelike lampolie”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.