Gedagte vir die dag: ʼn Vol lewe

Eksodus 20:13 – Jy mag nie moord pleeg nie.

Wanneer mens oor moord dink – of soos dit ook vertaal is: doodslaan – kom die gedagte by jou op van ʼn wegneem van iemand se kans op lewe. En daarom moet eers gevra word na hoe die Bybel lewe verstaan.

Lewe is iets wat God by die skepping tot stand gebring het. Dis ook aan die mens gegee om met verantwoordelikheid teenoor alles en almal gebruik te word. Die Psalmdigter het by geleentheid gesê: Lewe is om God te lowe (139:14), en elders (6:5), dat iemand in die doderyk God nie kan loof nie. Die mense se hoogste doel is dus om as beelddraer van God te lewe tot sy eer. Dit maak lewe so kosbaar.

Wat hier gevra word is ʼn herwaardering van die lewe. ʼn Respek vir lewe. Vir ons eie en vir dié van ander. Dit kom nie  vanself nie. Soos asemhaal, dink ons nie elke dag daaroor nie, en tog is dit broodnodig. Die lewe is broos en kort, maar tegelyk kan dit vol en besonders wees – soos die Here dit bedoel het (Joh. 10:10).

Ons liggame is ʼn tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 3:16). Ons het ʼn verantwoordelikheid om dit op te pas, om dit in stand te hou. Ons moet daarvoor sorg, deur gesond te lewe, te eet en te drink. Ons moet veral oppas dat ons niks sal doen wat ons liggame verslaaf en sodoende afbreek nie.

Almal wat kos produseer, moet toesien dat dit opbouend is vir die liggaam en nie sodanig gemanipuleer word dat dit mense se gesondheid kompromitteer nie. Vraag en aanbod, wins en verlies kan in baie gevalle belangriker beginsels word as mense.

Medici en navorsers moet alles in die stryd werp om mense se fisiese welsyn te verbeter en aan elkeen ʼn kans op ʼn vol en ryk lewe te bied.

Elkeen van ons moet alles moontlik doen om elke mens se lewenskwaliteit te verhoog. In ʼn wêreld waar ongelykheid aan die orde van die dag is en die gaping tussen ryk en arm al groter word, moet ons help toesien dat mense toegang het tot basiese dienste, sodat hulle nie voel dat hulle stukkie vir stukkie doodgaan nie, maar hulle deel van die lewe kan benut.

Gebed: Here, leer ons om die lewe te geniet en waardeer. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.