Gedagte vir die dag: Nader tot God

Jakobus 4:8a – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

Die Bybel is vol van God se beloftes. Sy Woord is ʼn liefdesbrief aan ons, sy kinders, sy geliefdes. Hy bevestig oor en oor sy liefde en sorg aan ons. Ten spyte daarvan pak ons soveel dae en dinge in ons eie krag aan en maak ons staat op ons eie insig en reserwes.

God verwelkom selfs ʼn geringe poging van sy kinders om sy teenwoordigheid op te soek. Selfs die prewel van God se naam is vir Hom baie aanneemlik. Hy staan gereed om jou te ontvang. “Roep My aan,” sê die Here in Psalm 50, “Ek sal jou uithelp.” En in Klaagliedere getuig Jeremia dat God na hom toe gekom het, toe hy geroep het.

Hy wil die dag tot dag se sleur en swaarkry met jou deel. Hy wil daar wees en deel wees van jou lewe elke dag. In ons poging om self “te wil” of in die nalaat daarvan om God deel te maak van elke oomblik van ons bestaan, ontsê ons onsself van soveel seën en stel ons onsself met so min tevrede.

God wil ons laat deel in sy genade. Hy nooi ons telkemale in sy Woord uit. Vandag herinner hierdie woorde van Jakobus ons weer dat Hy in jou lewe betrokke wil wees. Deur sy Seun, Jesus Christus, is ons tog mede-erfgename en het ons deel aan die oorvloed van die Koninkryk! Roep tot God, nou waar jy jou bevind. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor nie te doof om te hoor nie” [Jesaja 59:1].

Gebed: Alomteenwoordige God, ek wil nie een oomblik van hierdie dag sonder U wees nie. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.