Gedagte vir die dag: Nebukadnesar se boom – die verganklike en die onverganklike

Daniël 4:10-12: Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: “Toe ek kyk, sien ek ‘n boom in die middel van die aarde, en dit was baie hoog. Die boom het so groot en sterk geword dat sy top aan die hemel geraak het, en dit was oral op die aarde sigbaar. Sy blare was mooi en sy vrugte was groot, daar was genoeg kos aan hom vir die hele wêreld. Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls nes gemaak. Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry.

In die vierde hoofstuk van die boek Daniël het Nebukadnesar ‘n droom gehad van ‘n boom wat afgekap word (Daniël 4:13-17). Daniël verklaar die droom en verduidelik aan Nebukadnesar dat hyself die boom is. Indien die koning nie bely dat die Allerhoogste al die mag het nie, sal hy sy verstand verloor en hy sal uit die samelewing verstoot word (Daniël 4:19-27).

Koning Nebukadnesar was een van die magtigste konings wat die wêreld nog ooit gesien het. Hy het vir langer as 40 jaar regeer en met sy dood in 561 v.C., was die stad Babilon die simbool van prag en praal en wêreldheerskappy. Maar soos die geval met baie mense, is hy ook mislei deur die verganklike dinge van hierdie wêreld. Hy het sy rug op God gekeer en het baie trots geword. Sy droom vertel ons van ‘n baie hoë, groot en sterk boom. Toe kom die bevel: “Kap af die boom, kap af sy takke, stroop af sy blare …” (Daniël 4:13-14). Die boodskap was duidelik – in ‘n oogwink sou die rykdom en sukses van die koning verlore wees. Alles wat Nebukadnesar besit het, sou vergaan! Alles waarop hy vertrou het, sou verdwyn! In 538 v.C., minder as ‘n kwart eeu na die dood van Nebukadneser het Babilon in die hande van Cirus, die koning van Persië geval.

Wanneer Jesus die gelykenis van die ryk dwaas (Lukas 12: 13-21) vertel, wys Hy ons ook op die gevaar daarvan om op besittings te vertrou. Hy waarsku die skare dat “‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Ons is dikwels so vasgevang in die sake van hierdie wêreld dat ons vergeet hoe verganklik alles is. Ons gebruik ons tyd en talente vir die verganklike dinge en verwaarloos Jesus, die Bron van ons ewige vreugde en lewe.

Gebed: Here, dit is so maklik om vasgevang te word in die verganklike dinge van hierdie wêreld. Vergewe my vir die kere wat my valse trots daartoe gelei het dat ek net op my eie besittings en vermoëns vertrou het. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.