Gedagte vir die dag: Net die beste is goed genoeg

88_praisethelord-2Hand 6:3 – “Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel”.

“Diakens is soort van junior ouderlinge, en doen dienswerk tot hulle oud genoeg is om as ouderlinge gekies te word.” Stem jy saam met hierdie katkisant se definisie? Dit mag waar wees van sommige tradisionele kerke, maar dit is nie wat ons in die Bybel leer nie. Die eerste diakens was die heel beste lidmate wat hulle kon kry, en waarskynlik ook nie juis jonk nie.

Die eerste gemeente het vinnig  gegroei.  Daar was baie lidmate wat hulp nodig gehad het, en die apostels kon nie bybly om hulle te versorg nie. Toe daar klagtes van diskriminasie ontstaan, het Petrus  hulle almal bymekaargeroep en verduidelik dat hulle uit hulle eie geledere diakens moet kies. Nie sommer enige jongman nie, maar manne wat bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees en wysheid is. Die Heilige Gees moes hulle lei in hulle besluitneming, en hulle sou baie wysheid nodig hê om die regte manier van hulp te kan identifiseer. Die apostels wou hulleself toelê op gebed en die prediking (Hand 6:4).

In Suid-Afrika is daar soveel werkloosheid dat elkeen wat produktief is, vir ten minste vier ander moet sorg, volgens een van ons ministers. En met die baie bedelaars wat by ons deure kom klop, weet ons ook nie altyd wat die waarheid is nie, en wat die regte manier is om hulle te help nie. Elkeen van ons het die leiding van die Heilige Gees en wysheid nodig.

Gebed: “Here, ons bid vir elke diaken, en vir ons, vir die nodige wysheid en die leiding van die Heilige Gees.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.