Gedagte vir die dag: Net ‘n krummel

Matt 15:27 – “Dit is waar, Here,’ sê sy, ‘maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

“Ja, Here, ek erken U Woord”, sê hierdie heidenvrou. “U uitspraak oor my is waar. Ek erken ek is ʼn hondjie. Ek erken ek is ʼn heiden. Ek erken ek is nie een van die uitverkore volk, die Jode, ‘die kindertjies’, nie. Ek wil ook nie die kindertjies se kos hê nie. Ek vra ook nie dat U moet afwyk van die wil van die Vader en nou die kindertjies se brood vir ʼn hondjie moet gee nie. Maar, Here, U self het gesê daar is ‘kinders’ en daar is ‘brood’. Het U al ooit kindertjies gesien brood eet sonder dat daar ʼn paar krummeltjies val? Ek vra nie vir ʼn hele brood nie, nie eens vir ʼn sny nie. Ek vra maar net ʼn krummeltjie. As daar kinders is en daar is brood, is daar altyd krummeltjies. En die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.

“Hulle sal die krummeltjies nie eens mis nie, maar vir my is dit genoeg. Dis al waarvoor ek vra. Één krummel van die krag en genade van u tafel sal die duiwel uit my dogter uitdryf. Één krummel is genoeg, Here. Net een krummel!”

Die woorde van die ou evangeliese gesang kom by my op: “Een druppel bloed kan red my siel; maak my gebroke hart weer heel; een druppel net, van u genade’, vir my gestort op Golgota.” Kyk wat doen hierdie vrou. Martin Luther het gesê sy het Jesus met sy eie woorde gevang; sy het die swaard uit sy hand geneem. Sy moes tussen sy woorde rondkrap, tussen die reëls lees, om net ietsie te kry om aan vas te hou. En sy hét dit gekry.

Gebed: “Net ʼn krummel sal ook vir my genoeg wees, o Here! Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.