Gedagte vir die dag: Net op uitnodiging

Luk. 7:36 – “Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem” .

Ons Here is ʼn ware heer, die grootste gentleman wat ooit geleef het. Hy sal Hom nooit aan iemand opdring nie. Hy sal nie ingaan of bly waar Hy nie ingenooi en nie welkom is nie. Toe die mense van Gadara hom vra om hul gebied te verlaat, het Hy dit sonder aarseling en teëspraak gedoen (Mark. 5:17-18).

Hy sal klop, ja, en wanneer jy oopmaak, sal Hy inkom (Op. 3:20). Hy sal roep, en wanneer jy ag slaan op sy stem, sal Hy jou red. God sal egter niemand as gyselaar neem nie. Niemand sal sonder keuse en teen sy wil eendag in die hemel wees nie. Jesus het nie onwillige volgelinge nie. Hy is nie soos die slagter wat die skape aanjaag nie; nee, Hy is soos die Midde-Oosterse herder wat sy skape lei.

Daarom was dit God se wil dat sy Seun in ʼn eenvoudige stal gebore word – dit was al plek wat vir Hom beskikbaar en toeganklik was. Daarom het Jesus nie by Emmaus verbygegaan toe Kleopas en sy metgesel by Hom aangedring het om by hulle tuis te gaan nie (Luk. 24:29). Jesus wys nie ʼn uitnodiging van die hand nie.

Daarom het Hy ook by ʼn Fariseër se huis ingegaan om daar te eet – ongeag hierdie man se motiewe; ongeag Jesus se afkeer van die skynheiligheid van baie van die Fariseërs. Dit is ook waarom Hy saam met sondaars en tollenaars by hul huise gaan eet het (Luk. 5:29; 7:34).

Jesus behoort die eerste Persoon te wees wat jy in jou lewe innooi wanneer jy jou verstand kry; die eerste Een wat jy na jou huweliksonthaal nooi en in jou huwelikslewe innooi; die eerste Persoon wat jy na jou huis en jou werk nooi.

Gebed: “Jesus, wees die Eregas in elke faset van my lewe. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.