Gedagte vir die dag: Nie ver van die boom

Eksodus 20:12- Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Die uitdrukking: Die appel val nie ver van die boom nie, is in baie opsigte van toepassing in ons lewens. Want wat kinders by ouers leer en sien, word maklik ge-eggo in hulle eie lewens. Doen wat ek sê en nie wat ek doen nie, vind nie veel aanklank nie.

As daar eerbied en respek vir gesag in die huis gekweek word, kan dit uitkring na alle vlakke van die samelewing waar gesag ter sprake is. Die oormatige klem wat hedendaags geplaas word op menseregte, het baie mense-verantwoordelikhede in die stof laat byt. Uiteindelik lyk dit asof almal kan doen wat hulle wil en beroep hulle hulle telkens op hulle regte.

Balans bly steeds die wagwoord. Kinders wat tuis, óf onder die duim gehou is, óf alles toegelaat is, pas moeilik in die samelewing aan. Op skool wil húlle die septer swaai. Wanneer hulle aan ʼn werkgewer verantwoording moet doen, protesteer hulle. Hulle weet nie hoe om konflik op te los nie, veral wanneer hulle opinie nie goedskiks aanvaar word nie. As landsburgers moet alles in húlle guns swaai, of die duiwel is los.

Kom ons begin weer as ouers erns maak met ons verantwoordelikhede: moenie net (politieke) leiers en leerkragte afkraak nie, maar praat ook oor eie plig; wanneer ons na ’n polisie- of ʼn verkeersbeampte verwys, moet dit nie neerhalend en afbrekend wees nie; verkeersreëls is daar om gehoorsaam te word (al doen die meerderheid dit nie); praat oor werk as ’n geleentheid om ’n verskil te maak en nie as ’n noodsaaklike euwel nie…

Hierdie word die enigste gebod met ’n belofte genoem: dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Dit beteken nie noodwendig ʼn langer lewe nie, maar ʼn voller een. As daar soveel eerbied en respek vir mekaar op alle terreine is, sal dit voel asof ons langer lewe, so lekker is dit.

Maak vandag ons eie land ’n beter plek waar elkeen ʼn plekkie in die son het, ons die eer ontvang wat ons toekom en ons dit ook aan ander gun!

Gebed:
Hemelse Vader, ons wil ons voorregte geniet, maar ook ons verantwoordelikhede nakom.  Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.