Gedagte vir die dag: Niemand soos God?

Psalm 93:1-3 – Die Here regeer! Sy grootheid en krag is vir Hom soos sy klere. Kyk hoe vas staan die wêreld, ʼn mens kan dit nie sommer rondstoot nie. Maar die Here wat oor alles Heers, staan nog vaster, want Hy is van altyd af daar. Kyk na die see; dit druis en die golwe slaan, o Heer, maar wat is dit in vergelyking met U?

As ek die Psalm lees, dink ek aan die woorde van Chris Tomlin se wonderlike lied “How great is our God”. Dis ʼn lied wat die wonder en glorie van God besing. Dis ʼn lied wat erkenning gee daaraan dat daar nie nog so ʼn God is soos die God wat ek en jy ken en dien deur Jesus Christus nie. Hy is die enigste ware God en Hy is doodgewoon wonderlik. Alle godsdienste aanbod aanbid een of ander god of selfs gode in sekere gevalle. Die een ding wat hulle almal in gemeen het, is dat hulle die hele tyd moet presteer om hulle god tevrede te hou. Hulle word die hele tyd beoordeel en hulle dade een vir een geweeg. Sulke godsdienste werk altyd op prestasie en verdienste. Net ons God, die Vader van Jesus Christus, het afgebuig na my en jou in ons verlore toestand. Net ons God stuur sy eie Seun om in ons plek vir ons sondes te sterf. Ja, ons God bewys liefde aan ons. Hy presteer in ons plek. Daar is nie nog ʼn God soos ons God nie. Hy is waarlik die enigste ware God!

Ons dien ʼn God wat nie net die moontlike nie, maar ook die onmoontlike kan doen – soos Hy bewys het toe Hy sy Seun laat opstaan het uit die dood. – Coenie Burger

Gebed: Here, ek voel om te sing: Daar is niemand soos U nie. Ek roep dit uit, Here: U is die enigste ware God. Dankie dat ek U kan ken.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.