Gedagte vir die dag: Niemand soos Hy nie!

Openbaring 5:9 – “U is waardig …”

Hierdie bydrae is die doksologie van ʼn onbekende Engelse skrywer:

Meer as 2 000 jaar gelede is Hy, strydig met die wette van die natuur, verwek en gebore. Hy het in armoede geleef en is in obskuriteit grootgemaak. Hy het nooit ver gereis nie. Hy was nie welgesteld nie; sy familie was nie belangrike mense nie en Hy het geen formele opleiding gehad nie.

As baba het Hy ʼn koning ontstel; as kind het Hy teoloë verbyster; as man het Hy die gang van die natuur beheer, op die golwe gewandel asof op plaveisel, en ʼn stormsee laat stil word soos ʼn baba in ʼn wiegie.

Hy het menigtes sonder medisyne gesond gemaak en niks vir sy diens gevra nie. Hy het nooit ʼn lied gekomponeer nie, en tog is Hy die tema van meer liedere as wat daar liedskrywers is. Hy het nooit ʼn kollege gestig nie, maar alle opleidingsinstansies saam het nie soveel studente soos Hy nie.

Hy het nooit ʼn soldaat opgeroep, ʼn weermag opgekommandeer of ʼn skoot gevuur nie, en tog het ʼn leier nog nooit meer vrywillige navolgers gehad wat sy opdragte uitvoer nie. Hy het nie sielkunde studeer nie, en tog het Hy meer gebroke harte geheel as alle dokters, psigiaters en sielkundiges saam.

Een maal per week kom miljoene mense oor die hele wêreld heen bymekaar om aan Hom eer en hulde te bring. Die name van wetenskaplikes, filosowe, teoloë en kunstenaars het gekom en gegaan, maar die Naam van hierdie Man versprei net al hoe meer.

Al het daar reeds 2 000 jaar verloop tussen die huidige geslag en die toneel van sy kruisiging en opstanding, leef Hy steeds! Pilatus kon Hom nie vernietig nie, en die graf kon Hom nie hou nie. Hy is deur die Vader tot die hoogste hemelse heerlikheid verhef, Hy word deur die engele erken, deur die heiliges vereer, deur demone gevrees – as die lewende Christus, ons Here en Verlosser!

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.