Gedagte vir die dag: Niks noem ek my eie meer…

Eksodus 20:15 -Jy mag nie steel nie

Die Psalmdigter sê dat alles aan die Here behoort (24:1). Die Here het die verantwoordelikheid aan die mens gegee om dit te geniet en namens Hom te bestuur. Ons noem dit rentmeesterskap. Die hartseer waarheid is egter dat nie almal ewe veel van alles het nie, en nie almal verantwoordelikheid wil aanvaar nie vir die skepping nie.

Daar bestaan ʼn oneweredige verdeling van besittings en eiendom in die samelewing. Daar is baie maniere om dit te probeer verklaar, maar dit maak die gaping tussen dié wat het, en dié wat nie het nie, nie kleiner nie.

Sommige beweer die verskil het te make met die skeppingsorde – mense het van die begin af verskillende beroepe beoefen en daarom verskillend presteer.  Ander glo dit het te make met die gebruik van geleenthede – sommige gebruik dit net beter as ander. Nog ander wyt dit aan politieke en ekonomiese stelsels.

Hoe dit ook al sy, christene het vandag seker die grootste uitdaging en verantwoordelikheid om na mekaar om te sien. En dit in ʼn wêreld waar eie behoeftes prioriteit geniet en basta met die res. Tog het ons die roeping om om te sien na hulle wat nie (meer) die mas kan opkom nie. Met ʼn werkloosheidsyfer van rondom die 25% is daar baie mense wat graag wil werk, maar nie geleentheid kry nie. Sommige het nog nooit die kans gehad nie, terwyl baie ander hulle poste moes ontruim ter wille van iemand anders.

Hoe reageer ons as kinders van die Here? Wend ons elkeen daadwerklike pogings aan om met ander te deel uit dit wat ons in oorvloed het, of weerhou (steel) ons daardie geleentheid?

Jesus het ons geleer bid vir ons daaglikse brood. Daar is mense wat te lui is om te werk en wil dan ander se goed vat. Ander verdien net te min om ʼn menswaardige bestaan te maak en moet dan bakhand êrens gaan staan en bedel. Ander is weer so ingestel op die luukses en sal alles opoffer om dit te kry en te behou – selfs ten koste van ander.

Hoe gaan jy vandag met jou besittings om? Wat is jou gesindheid teenoor hulle wat nie het nie?

Gebed: Here, help my om vandag verantwoordelik om te gaan met alles wat U aan my toevertrou het. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.