Gedagte vir die dag: Nooit alleen nie

praying-handsDeut 31:8 – Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.

“Hoe berei jy mense voor vir groot veranderings?” Ons almal worstel die een of ander tyd met hierdie vraag. Elke keer as ons moet verhuis, of as die kinders na ‘n ander skool moet gaan, of as daar veranderings in die bestuur of eienaarskap van ons firma is, of as ‘n nuwe bestuurder in jou departement oorneem. Dit is vir almal ‘n tyd van groot stres, en veral as dit kan beteken dat jy jou werksekuriteit verloor. Regstellende aksie en rasionalisasie het baie van ons al seer gebyt. In vandag se gedeelte is Moses besig om die volk – en vir Josua – voor te berei vir ‘n dramatiese verandering. Moses sal nie langer die leier kan wees nie. Hulle sal in die vervolg sonder hom moet klaarkom. Dinge waarop hulle die afgelope veertig jaar staat gemaak het, val nou weg. Wat hou die toekoms vir hulle in, veral met die groot uitdagings wat voorlê? Moses wys die volk daarop dat die Here nie verander nie, en dat Hy nog steeds in beheer is (v 5). En hy bemoedig die nuwe leier ook deur hom te verseker dat die Here by hom sal wees, en dat hy nie hoef te vrees nie (v 8). Dit kan wees dat jy vandag ook onseker voel oor dinge wat buite jou beheer is. Jy weet nie wat om te verwag nie. Moenie bang wees nie – die Here het reeds voor ons uitgegaan, en ons moet Hom net volg. En dit geld ook vir die dag wanneer ons elkeen sal moet oorstap na die ewigheid.

Gebed: “Dankie dat U nooit verander nie, Here. Ek wil hierdie dag, en elke dag, agter U aan gaan. Lei my en help my.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.