Gedagte vir die dag: Nuwe seisoen begin met verandering!

Rom 12:2 – Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Soms wil ons graag ontslae raak van slegte lewensgewoontes, maar ons is bang vir daardie verandering. Ons wil vasklou aan ou gewoontes omdat dit vir ons bekend is, al weet ons dit is nie reg nie. Ons wil vasklou aan sonde wat vir ons ongeluk bring. Ons besef ons moet God toelaat om ons lewens nuut te maak, maar ons is bang vir die onbekende. Dit het my aan die volgende verhaal laat dink: Op 31 Januarie 1829 skryf die goewerneur van New York, Martin van Buren, ʼn baie dringende brief aan president Jackson, die President van Amerika:

“Geagte President, Die kanaalsisteem (waar bote deur kanale ry) in ons land word bedreig deur die moontlikheid van ʼn nuwe vorm van vervoer naamlik treine. Die regering moet hierdie pogings van veranderings van ons vervoersisteem dringend stop om die volgende redes: Sodra bote met treine vervang word sal dit ernstige werkloosheid tot gevolg hê. Kapteins, kokke, drywers, slawe en werktuigkundiges sal sonder lewensonderhoud gelaat word. Wat meer is, die boere wat kos vir die perdekoetse gee sal sonder werk wees. Die bootbouers sal ook sonder werk gelaat word. Kanaalbote is absoluut noodsaaklik vir die verdediging van die Verenigde State as ons oorlog teen Engeland voer. Die Erie Kanaal sal die enigste manier wees om wapentuig te vervoer. Dit is so noodsaaklik vir moderne oorlogvoering.

Die grootste rede, meneer die president, is dat treinvervoer beweeg teen die geweldige spoed van 15 myl per uur. Sulke vinnige vervoer is ʼn gevaar vir die passasiers se lewens. Hulle gesondheid sal dit nooit hou as die trein so vinnig beweeg nie. Hierdie spoed sal die oorsaak wees van veldbrand en die vee en beeste sal hulle doodskrik met die spoed wat die trein beweeg. Ja u moet weet dat die almagtige Vader het nooit bedoel dat ʼn mens teen nekbreekspoed moet beweeg nie.
Groete, Martin van Buren (Goewerneur van New York).

Moenie positiewe verandering in jou lewe teëstaan omdat jy bang is vir verandering nie. Mense wil nie verander nie omdat die bekende makliker as die onbekende is. Daarom is hulle maar tevrede met die sonde en ou gewoontes in hul lewens. Hulle besef nie dat daar ‘n beter en meer vervulde lewe op hulle wag nie. Dit is wat Jesus vir ons wil hê. Hy het ons lewensrigting kom verander en ‘n nuwe lewe moontlik gemaak. Hy het sy eie lewe gegee sodat die wêreld verander kan word en nuut kan begin. Stel jouself vandag oop dat die Here jou lewenseisoen en denke kan verander sodat jy ʼn nuwe en wonderlike lewe kan leef! Dit is die moeite werd om ʼn nuwe begin te maak!

Gebed: Here gee dat ek nie bang sal wees vir verandering wat vir my ʼn beter en nuwer lewe saam met U kan gee nie. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.