Gedagte vir die dag: Om die hart van ‘n dienskneg te ontwikkel

“Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” 
Lukas 10:30-33

Ons het diensbaarheid en wat dit beteken om ‘n dienaar van God te wees, verlede week bespreek. Hierdie welbekende gelykenis van die Barmhartige Samaritaan is ‘n uitstekende voorbeeld van iemand wat die hart van ‘n dienskneg het.  Hoekom het hierdie Samaritaan ten spyte van die moontlike risiko wat dit vir hom ingehou het, by die gewonde man gestop en hom versorg? Hy kon ook maar net verby gestap het en niemand sou eers geweet het of minder van hom gedink het nie. Ek dink op die ou einde was daar net een rede; hy het die hart van ‘n dienaar gehad. Hy het ‘n hart vol deernis gehad. Jesus sê hy het die man wat geslaan was innig jammer gekry. Die Samaritaan het medelye gehad met die man wat daar halfdood gelê het en dit het hom tot aksie gedwing.

Verlede week het ons na beskikbaarheid as een van die sleutels tot diensbaarheid verwys. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat die Samaritaan nie beplan het om langs die pad by die gewonde man te stop nie. Dit was nie deel van sy beplanning vir sy dag nie. Hy het ‘n behoefte raak gesien en hy het homself beskikbaar gestel. Hy het net aangegaan met sy daaglikse werk, maar tog op die uitkyk vir ‘n geleentheid om te dien.

Daar kom elke dag eenvoudige klein geleenthede om te dien op ons pad, maar meeste van die tyd stel ons onsself nie beskikbaar nie. Die Here werk nie volgens ons dagbeplanner nie. Die afsprake in jou dagboek en op jou Blackberry kom selde ooreen met die afsprake wat Hy vir ons maak. Die Here kan ons net gebruik as ons gewillig is om ons beskikbaar te stel om te dien en ook as ons die behoeftes van ander raaksien.

Gebed: Hemelse Vader, gee my asseblief ‘n hart vol medelye en jammerte vir ander en gee dat ek nie koud sal staan teenoor ander se probleme en al die pyn wat daar in die wêreld is nie. In u Naam bid ek dit. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.