Gedagte vir die dag: Om jouself lief te hê

Matteus 22:39 – En die tweede, wat hiermee gelyk staan is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Matteus 22:39

“Hoe kan ʼn mens jouself liefhê- is dit nie bietjie selfgesentreerd nie?”. vra iemand eenmaal vir my. Daar is mense wat sukkel om die begrip selfliefde te verstaan. Miskien is dit omdat selfliefde soms met selfgesentreerdheid verwar word. Selfgesentreerdheid is om so op te tree asof alles in die samelewing rondom jou eie belange draai. So ʼn houding van selfgesentreerdheid en selfverheerliking het niks met liefde vir jouself te maak nie, dit is eerder om van jouself ʼn afgod te maak. As jou optrede ten koste van ander mense is en hulle benadeel, is dit nie liefde nie, maar selfsug. Liefde is iets anders. Matteus 22 leer vir ons dat liefde vir jouself onlosmaaklik aan die liefde is wat jy vir ander mense het.

Liefde bou jouself en ander mense op en is nie afbrekend teenoor jouself en ander nie. Selfliefde is om te weet dat jy (en ander mense) kosbaar is omdat julle na die beeld van God gemaak is. God het jou so lief dat Hy sy enigste Seun Jesus Christus gestuur het om vir jou te sterf. Dit maak jou en ander mense rondom jou, baie kosbaar. Daarom mag jy jouself of ander mense nie geringskat en afbreek nie, want God het julle geskape . Selfliefde is om jouself te ken en te aanvaar. Jy moet jou eie sterkpunte, sowel as jou tekortkominge besef en bereid wees om dit te aanvaar en daarmee saam te leef. Dit beteken nie dat jy die sondes in jou lewe moet aanvaar nie-daaraan moet jy werk. Mense sukkel om met ander mense in ʼn verhouding te staan en ander lief te hê as hulle nie ʼn goeie gebalanseerde siening van hulself het, tevrede is oor hoe God hulle geskape het en vir hulleself lief te wees nie. Om jouself lief te hê is om vir jou eie gees en liggaam om te gee, dit te versorg en op te pas.

Psalm 139:14 “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker.”

Matteus 22 leer vir ons om vir jouself en ander mense op dieselfde manier lief te wees. Dit is soms moeilik om hierdie balans toe te pas. Die toets vir selfliefde is om vir ander om te gee soos jy vir jouself omgee.

Gebed: Here dankie dat ek en my naaste kosbaar in u oë is. Help my om myself lief te hê soos U my liefhet en leer my om ander mense ook so lief te hê. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.