Gedagte vir die dag: Om te lag

Spreuke 17:22 – ’n Vrolike mens is ʼn gesonde mens, ʼn neerslagtige mens raak uitgeput.

 Die  begin van  die lente gee weer vir ons die geleentheid om positief en vrolik na die lewe te kyk. Om die positiewe en ligter kant van die lewe raak te sien maak jou nie net geestelik gesond nie maar gee jou ʼn nuwe energie, leer die Spreuke digter ons. Die Bybel verwys op verskeie plekke na vrolikheid en vreugde. Daar word in die Bybel baie humor gebruik. Die Nederlandse skrywer, Okke Jager het destyds ʼn boekie geskryf oor humor in die Bybel. Hier het hy uitgewys dat die Bybel vol ironieë en humor is wat ʼn mens laat glimlag.

Die Amerikaanse tydskrif  “The Week”- berig dat lag veroorsaak dat die endotelium (die weefsel wat bloedvate omlyn), uitsit. Dit verhoog die bloedvloei in die are. As jy dus baie lag, verlaag die risiko van ‘n hartaanval. Volgens mediese navorsers gee lag ook laer stresvlakke en beter gesondheid. Geestelike inspanning vernou die bloedare, terwyl lag die teenoorgestelde uitwerking op jou are het- dit is dus vir jou geestesgesondheid beter om gereeld te lag!  ʼn Hoof van die neurochirurgiese afdeling by Groote Schuur het ʼn klompie jare terug gesê: ” Die algemeenste vorm van lyding is nie pyn nie, maar neerslagtigheid.” Lag help dat ons eerder die positiewe in ʼn situasie raaksien as die negatiewe. Dit help om ons positief te kry! Dit is tog ʼn sielkundige feit dat die meeste mense net so gelukkig is as wat hulle hulself voorneem om te wees! Daar is geen lekkerder en soeter medisyne as die natuurlike lag nie.

‘n Gesonde leefstyl navorser vertel dat 30 minute se oefening drie keer per week, en 15 minute van hartlike lag elke dag vir goeie gesondheid sal sorg. Daar is genoeg navorsing wat bewys dat volwassenes minder sorge sou hê, indien hulle meer spontaan soos kleuters is. Dit is ook in die opsig dat ons meer soos kinders na die lewe moet kyk.

Dit is ʼn jammerte dat so baie mense God se natuurlike medisyne van lag, humor en vrolik wees heeltemal ignoreer.   Ons kan nie verbeter op God se plan nie.  Maak vandag tyd om te lag.  Wees vrolik- dan sal jy sien hoe jou eie gesondheid en geestelike energie, as ook die mense rondom jou, verander!

 Gebed: Here dankie dat ons kan lag en die lewe positief benader! Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Murray Janson het ook ‘n kosbare boekie “Humor in die Bybel” geskryf wat ek jarrre gelede gelees het en baie geniet het. As ek reg onthou, het hy gesê dat God die outeur van humor is en dat die duiwel nie spontaan kan lag nie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.