Gedagte vir die dag: Omhels die waarheid

koring_somer_son_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. (Romeine 8:28)

Wanneer ons nie in beheer is nie, kan ons beswaarlik glo dat Jesus is. Dink ’n bietjie daaraan – al doen ons dit onwetend, koppel ons Jesus se vermoëns aan ons eie. Wanneer alles met ons goed gaan en voorspoedig is, dink ons Jesus is goed en wonderlik. As krisisse losbars en tragedie ons tref, is Jesus nie meer so goed en wonderlik nie. As ons geliefd voel, is Jesus liefdevol, maar as ons nie meer só voel nie, is Jesus ook nie meer nie. Terwyl ons in beheer van sake is, glo ons Jesus is in beheer, maar as ons dit begin verloor, is ons oortuig Jesus het dit verloor. As ons nie van iemand hou nie, aanvaar ons dit is vir Jesus ook só. Dit lyk amper of ons dink ons is Jesus!

Dit is ’n nugter oomblik as ons hierdie waarheid in ons lewe kan raaksien omdat dit help om die waarheid te omhels. God se waarheid is nie afhanklik van ons emosionele toestand nie. Al is ons in ’n situasie totaal van beheer gestroop, is Jesus steeds die Koning van die konings en bestuur Hy sake. Ons kan ons ten volle onder Jesus se leiding plaas, ongeag wat die uitkoms gaan wees. Dit is ’n baie bedreigende posisie om in te wees, want die meeste van ons vrede word gegenereer in toestande waar ons geen beheer het nie. Wanneer vrese ons oorval, moet ons aan Jesus oorgee en vertrou dat Hy weet wat Hy doen en dat alles ten goede sal meewerk vir hulle wat God lief het. Daar is niemand meer kragtig as Jesus nie.

Wanneer ons aan God oorgegee is, kan niks met ons gebeur wat Hy nie toelaat nie, en al laat Hy die ergste toe, is Hy steeds in beheer. Jesus moes hierdie beginsel in Getsemane toepas, Christene in die arena in Rome en ook Paulus toe hulle hom uitlei om onthoof te word.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Brian ·

Om vrede met God te handhaaf sal die haat en vervolging van die wêreld tot gevolg hê, maar die ware gelowige sal nie die vrede van God verlaat nie. Daarom het Jesus – as mens – gehoorsaam gebly tot die dood aan die kruis, en dieselfde met Sy apostels, die hervormers, en die Christene wêreldwyd. Jesus se fisiese opstanding uit die dood en Sy belofte van ewige lewe aan diegene wat ‘n volle oorgawe aan Hom(Sy heerskappy) maak, het die hoop geword wat die vrees vir vervolging en dood te bowe gaan. In ‘n bose wêreld, wat steeds toeneem in boosheid, put gelowiges hulle krag uit die hoop op Jesus se beloofde wederkoms. Satan is die prins van hierdie wêreld, maar Jesus ons Koning en Verlosser.
Dankie Riekert vir jou geestelike inset op hierdie blad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.