Gedagte vir die dag: Onbeantwoorde geloof

Skrif:‘Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.’ Maar Hy het haar niks geantwoord nie.” (Matt 15:22-23)

Die verhoog was reggeskuif vir ʼn wonderwerk. Alles wat nodig was vir Jesus om ʼn wonderwerk te doen, was daar. Eerstens was daar smart, nood – ʼn krisis waaraan mense niks kon doen nie. Tweedens was daar geloof. Hoor net hoe spreek die vrou Hom aan: “Here, Seun van Dawid!” Die benaming “Seun van Dawid” was die Joodse titel vir die Messias. Dit het beteken hierdie vrou het Jesus as die Messias erken. ʼn Heidense vrou wat Jesus as die Messias erken! Wat sy volksgenote nie gedoen het nie, het hierdie vrou gedoen. Derdens was daar ʼn kind in ellende. Hierdie vrou het nie vir haarself kom pleit nie, maar vir haar kind. Vierdens, en die belangrikste van alles, die Een wat wonderwerke doen, was teenwoordig; Jesus sélf was daar! Inderdaad was al die bestanddele vir ʼn groot wonderwerk aanwesig.

Maar dan gebeur die onverstaanbare, die onverklaarbare! Jesus antwoord haar nie eens nie. Geen woord van bemoediging of troos kom oor sy lippe nie. Geen gebed tot God, geen aanraking nie! Hy steur Hom skynbaar nie eens aan haar nie. Die ore wat gewoonlik so gou is om ʼn hulpgeroep te hoor, het oënskynlik doof geraak. Die lippe wat gewoonlik heuning vir die behoeftiges drup, is stil. Die fontein waaruit nog altyd strome van seën gevloei het, het skynbaar opgedroog. Die Een wat gewoonlik vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” stel blykbaar nie belang nie.

Hoe dikwels ervaar ons nie dieselfde nie! In ons smart roep ons tot die Here – en tog lyk dit of Hy nie hoor nie, of Hy Hom nie aan ons steur nie. Waarom anders antwoord Hy ons dan nie? Maar wag ’n bietjie! Lees hierdie verhaal verder. Kyk hoe dit ontvou… en jy sal beter verstaan!

Gebed: Here, berei my voor vir ʼn wonderwerk! Amen.

Outeur: Isak Burger: President van AGS & SA