Gedagte vir die dag: Onderbreek jou program

seënEfé 2:10: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Werksdruk, volgepropte programme, sosiale verpligtinge en ‘n ongesonde verhouding met die sosiale media, laat min tyd en energie oor om mens vir God en mens vir ander te wees. As jou program lyk soos hierbo, dan is jy besig om jou lewe weg te gooi. In die woorde van John Boykin: “Tyd is lewe is en wat jy met jou ure en dae doen, is wat jy met jou lewe doen.”

Jy sien, as gelowiges is ons in Christus geskep “om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Efé 2:10). Ons móét werk ja, ook ontspan en sosiaal verkeer, maar nie ten koste van ons skeppingsopdrag nie. Wanneer ons mens vir ‘n ander word, gee ons gesig aan die genade van God. Ons is “bedienaars van die veelvoudige genade van God wat met die genadegawe wat ons ontvang het, ander moet dien.” (1Petr 4:10.)

Jesus verstaan Sy funksie op aarde – wees Mens vir mense en dien hulle. Oppad om vir ‘n sterwende dogtertjie hande op te lê, aarsel Hy nie vir een oomblik om Sy reis te onderbreek toe Hy ervaar dat krag uit Hom vloei nie. Iemand in die skare het groot nood, daarom verskuif Hy vir daardie oomblik Sy aandag na die betrokke persoon – ‘n desperate vrou wat smag na genesing. Toe die vrou met bloedvloeiing voor Hom staan, word sy nie net genees van haar siekte nie, maar Hy genees haar ook van wanhoop en vrees:” Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.” (Mark 5:34)

Daarna sit Hy eers sy reis voort om aan die eerste versoek aandag te gee – om die dogtertjie wat teen dié tyd reeds gesterf het, op te wek.

Ek en jy laat so dikwels die nou-oomblikke met mense deur ons vingers glip omdat ons te besig is om ons eie programme en tydskedules te laat werk. Ons raak onsensitief vir die Here se perfekte tydsberekening wanneer Hy mense ons pad laat kruis sodat ons vir hulle Sy mens kan wees; sodat ons met die genadegawes wat Hy ons gegee het, mense kan bedien met Sy veelvuldige genade.

Gebed: Gewer van alle goeie gawes, laat my program en my gebruik van tyd nie onafhanklik staan van U hart vir mense nie. Gee vir my hart ore, sodat ek nie U hand in die onderbreking van my program miskyk nie. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Mag God ons krag gee dat ons elke dag sy hande, ore, oë en hart in hierdie wêreld mag wees – nie vir ons eie eer nie maar alles om Christus se onthalwe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.