Gedagte vir die dag: Ongewild

kruis2 Kron 18:23 – “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”

“Gehoorsaamheid veroorsaak dikwels dat ‘n mens misverstaan en verwerp word,” noem iemand in ‘n gesprek oor vooraanstaande teoloë wat uitgeskuif is omdat hulle nie die gewilde boodskap wou onderskryf nie. Dit is eers jare later dat mense bereid was om te erken dat oom Beyers Naude of professor Du Plessis dalk nie so ver verkeerd was nie. Die geskiedenis het gewys dat hulle moontlik beter geluister het as hulle kollegas. Dit kos iets om te staan vir wat jy glo reg is.

Een van die tekens dat iemand verkeerd is, is dat hy sy humeur verloor en selfs gewelddadig word. So het Sedekia met sy ysterhorings met nadruk die koning verseker dat hulle die oorwinning sal behaal. Toe Miga se dat dit ʼn leuen is, het hy vir Miga aangerand en probeer verneder. Miga se antwoord het hom seker daarna laat wakker lê. Maar vir Miga het sy gehoorsaamheid beteken dat hy onskuldig in die tronk moes gaan sit en honger en dors moes Iy (2 Kron 18:26). Gehoorsaamheid kos ‘n prys. “Ek bid tog so dat my dogtertjie ‘n maatjie in die skool sal kry wat ook ‘n gelowige is,” vertel ‘n ma vir my. “Sy voel eensaam en verstote omdat sy nie met die ander wil saampraat en saam met die stroom wil gaan nie.” Vir ‘n tiener kan die groepsdruk ook hewig wees. Dit kos iets om staande te bly. Ook vir ouers wat in die sakewêreld of by die werk eerlik en opreg wil bly. Maar dit is die moeite werd.

Gebed: “Here, dankie dat u Gees my nooit sal verlaat as ek vir die waarheid van u Woord standpunt inneem nie.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.