Gedagte vir die dag: Ons almal word een of ander tyd moeg

Seruja se seun Abisai het Dawid egter gehelp en die Filistyn platgeslaan en doodgemaak. Toe het die manne van Dawid vir hom gesê: “U wat die lamp van Israel is, mag nie meer saam met ons na die oorlog toe uittrek nie, sodat die lamp nie doodgeblaas sal word nie.” 2 Samuel 21:17

 Daar is tye in ons lewe en in ons werk dat ons moeg word.  Indien dit aanhou moet ons die raad en hulp van ander aanvaar en miskien ons aktiwiteite afskaal. Dit is nooit ‘n maklike ding om te doen nie.

So ‘n oomblik van waarheid het op ‘n sekere stadium van sy lewe vir Dawid aangebreek. Dawid het as ‘n jong skaapwagtertjie bekend geword toe hy die die reus Goliat verslaan het. Hierdie dapper daad het Israel van ‘n nederlaag gered en Dawid guns in die oë van koning Saul besorg.

Baie jare het verloop en na vele beproewings was Dawid nou self die koning. En weer eens was die Filistyne in ‘n oorlog met Israel gewikkel. Dawid het self sy manne in die geveg gelei, maar hy het begin om moeg te word. Ouderdom het begin om Dawid, wat in sy jongdae bekend was vir sy krag, in te haal.

Jisbi, die seun van ‘n reus, wou Dawid doomaak.  Hy sou ook daarin geslaag het, was dit nie vir Abisai, Dawid se susterskind, wat sy oom te hulp gesnel en Jisbi verslaan het nie.

Dawid het gehou by die versoek wat sy manne daardie dag aan hom gerig het.  Hy het nooit weer persoonlik sy leër in ‘n oorlog gelei nie, maar hy het voortgegaan om te regeer totdat hy na 40 jaar op die troon in sy 71ste jaar gesterf het.

In ons eie omstandighede mag dit nodig wees om soos Abisai tot die redding van iemand wat hulp nodig het, te kom.  “As ons geloof sterk is, dan moet ons die gelowiges help wie se geloof swak is.” Romeine 15:1

Daar kom ook tye wat ons moeg word en nie langer so aktief en effektief is as wat ons graag wil wees nie.  Wanneer daardie tyd kom, mag God aan ons die wysheid gee om dit te herken en met grasie die raad en hulp van ander te aanvaar.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons in al die stadiums van ons lewe ontvanklik sal wees vir u leiding en vir die raad van medegelowiges. In die Naam van Jesus.  Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.