Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. (Ef 2:8)
Vir baie Christene is die woord “genade” al oorbekend. Ons het genade ontvang, ons is uit genade gered, God is genadig met ons. Maar besef ons wat hierdie woord régtig beteken? Vervlak ons nie dikwels met ons vrye gebruik van die woord die idee van genade nie?
Genade is iets wat ons glad nie verdien nie, trouens genade kan amper as die teenoorgestelde van regverdig gesien word. As gevolg van genade kry ons nie ons verdiende straf vir ons sonde nie. Ons moet nooit ligtelik met die genade wat ons ontvang het, omgaan nie. Hierdie genade het Jesus se lewe gekos. Ons moet elke dag dankbaar wees daarvoor, en hierdie dankbaarheid moet in ons dade na vore kom. Sonder God se genade sou ons vir ewig verdoem gewees het.
Sê elke dag dankie vir God vir sy wonderlike genade en leef elke dag ’n lewe wat hierdie genade regverdig.
Bron:
Hoor die hartklop van God deur Andries Enslin
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy