Gedagte vir die dag: Ons hoop op insig

Olie_lamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Filippense 1:6)

Jesus het die gelykenis van die tien jong meisies vertel om te beklemtoon hoe belangrik dit is om voorbereid te wees vir elke dag se uitdagings en veral vir die dag van sy wederkoms. Tien jong meisies is uitgenooi na ʼn bruilof, vyf was gereed om vir die bruidegom te wag. Hulle het hul lampies volgemaak en ook ekstra olie saamgeneem, terwyl die ander vyf net hul lampies volgemaak het. Toe die bruidegom baie later opdaag, was die onverstandige meisies se olie gedaan. Die verstandiges kon hul lampies weer volmaak, maar ongelukkig was daar nie genoeg olie om met die onverstandiges te deel nie. Hulle het gehardloop om nog olie te koop, maar hulle was te laat vir die bruilof.

‘Waak en bid!’ weerklink die refrein deur die Nuwe Testament. ‘Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit’ (Matt 24:36).

‘Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie’ (Luk 21:34).

Die Bybel moedig ons aan om op en wakker te wees en ons besig te hou met die Woord. Ons kan dit nie sonder God regkry nie. Dis Hy wat deur die Heilige Gees die wil in ons plant om gereed te wees vir sy koms wat so skielik soos ’n weerligstraal in die Weste sal uitslaan.

Is jou lampie én jou oliekannetjie vol olie?

Almagtige Heer en Hemelvader, ons hoop is op U om ons deur u Gees te inspireer om kennis en insig te vermeerder, en ons lewe so aan U te wy dat ons gereed sal wees vir die koms van die Bruidegom.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.