Gedagte vir die dag: Ons opdrag

Argieffoto

Argieffoto

Tit 1:1 – Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, die waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe .

“Waarvoor is ek hier?” is die vraag waarmee ons almal seker die een of ander tyd worstel. As ek maar net ‘n ongelukkie in die verloop van evolusie is, dan het ek nie ‘n doel nie en het ek niks om voor te lewe nie, behalwe om so lank moontlik te probeer oorleef. Maar as ek deel van ‘n lewende God se plan met sy skepping is, dan is ek van die grootste waarde. En dit is presies wat die Bybel vir ons wil leer. Jy is belangrik! Jy is kosbaar in God se oë! Jy is nie bedoel om net tydelik te wees nie; jy is vir die ewigheid bedoel! Paulus het geweet wat God se doel vir sy lewe was. Dit het sin gegee aan sy lewe. Dit het hom in staat gestel om in die moeilikste omstandighede te volhard. Hy stel hom aan ons voor as ‘n dienaar van God en ‘n gestuurde van Jesus Christus. Eers het hy Jesus probeer vervolg, maar nou het sy lewe omgekeer. Sy groot passie was om die uitverkorenes van God te gaan soek en hulle tot geloof te lei. In sy eie krag kan hy dit nie doen nie. Dit is net die Heilige Gees wat ware geloof in ‘n mens se hart kan plant. Maar God gebruik mense as sy boodskappers om die saadjies te saai. Bekering is nie die einde nie. Hy moes dissipels maak van die nuwe bekeerlinge deur die waarheid aan hulle te leer. Die waarheid lei tot die diens aan God, se hy. Dit is die toets of jy die waarheid beet het. Lei dit tot diens aan God? En dit is nog nie die einde nie. Gee die waarheid vir jou hoop? Verwag jy die ewige lewe na hierdie lewe?

Gebed: “Dankie dat U ook vir my ‘n roeping het, Here. Help my om dit voluit uit te leef.

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.