Gedagte vir die dag: Ons verantwoordelikheid

Teks: “Gee julle vir hulle iets om te eet” (Matt. 14:16).

Sou Jesus vandag nog van ons as sy navolgers dieselfde verwag as wat Hy van sy dissipels verwag het? Wat het ons as sy dissipels om aan vandag se soekers te bied?

Ek besef dat daar in ons verligte, moderne wêreld met sy gevorderde wetenskap veel meer hulp vir die behoeftes en nood van mense is as in die tyd toe Jesus geleef het. Ons weet egter ook dat daar vandag meer mense as ooit tevore is wat hulp nodig het. Net hier in ons eie land is daar soveel fisieke, emosionele en geestelike nood wat aan ons as die liggaam van Christus soveel geleentheid gee om iets van die liefde van die Here aan mense te openbaar. 

Natuurlik is daar welvarende gemeenskappe waar armoede en honger in die letterlike sin van die woord kwalik nog bestaan. Dit beteken egter nie dat die behoeftes van die mense wat daar woon minder dringend is nie. Navorsing toon immers dat hoe meer mense besit, hoe meer is daar wat hulle wíl besit. Die armstes soek net iets om te eet en ʼn plek om te slaap. Dié wat baie het, vind elke dag nog meer onvervulde begeertes. Daar is egter inderdaad behoeftes wat nie deur welvaart bevredig kan word nie. Daar is ʼn honger wat nie deur kos bevredig kan word nie. Dit is daardie honger wat alleenlik deur die Here versadig kan word en dit is waar die kerk en ons as Christene ter sprake kom. Wat bied ons aan sulke mense? Lewer ons ʼn getuienis van ware vervuldheid in Christus? Wys ons lewe, ons huwelik en ons werk dat ons mense is wat méér gevind het as wat geld kan koop? Ons sal immers niks hê om te gee as ons self nie eers van Hóm ontvang het nie. 

Gebed: Ek wil u opdrag ter harte neem, Here. Daar is soveel mense vir wie ek in u Naam iets kan gee of doen. Amen. 

Outeur:  Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.