Gedagte vir die dag: Ons wil Jesus ontmoet

Johannes 12:26
As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

Dit is paasfees en Jerusalem is in rep en roer. Jesus, wat Lasarus in Betanië uit die dood opgewek het, het so pas ‘n triomfantlike intog in Jerusalem gemaak. Is Hy die Messias? Die mense drom oral saam om Hom te ontmoet.

Daar was ‘n aantal Grieke wat na Filippus toe gegaan het en vir hom gesê het: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.” Filippus en Andreas gaan sê dit toe vir Jesus en sy reaksie is baie onverwags. Hy kondig aan dat die tyd gekom het vir die Seun van die mens om verheerlik te word (v 23). Hy verduidelik wat dit beteken en Hy vertel hulle van sy naderende lyding en dood, waardeur Hy almal na Hom toe sal trek (v 32). Die skare het Hom nie verstaan nie. Agterna beskou, weet ons egter dat die “almal” sluit almal in wat Jesus wil ontmoet, insluitende die Grieke (v 20) en elkeen van ons. Toe Jesus aan die kruis gespyker is, het Hy die deur tot die ewige lewe vir ons geopen (v 25).

Jesus se dood aan die kruis, is ‘n volkome openbaring van die liefde van God. Volgens die Evangelie van Johannes, is dit die laaste keer voor sy lyding en opstanding dat Jesus die skare toespreek. Sy laaste woorde aan hulle is veral baie relevant. “Nog net ‘n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” (Johannes 12:35-36)

Gebed: Hemelse Vader, laat ons ook mense van die lig wees en u Naam verheerlik. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.