Gedagte vir die dag: Ontsteld?

 Joh 14:1 -Julle moet nie onsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My”.

Hierdie woorde van Jesus was vir soveel mense, oor so ‘n lang tydperk en in soveel verskillende omstandighede so ‘n groot troos. Dis nie magtelose woorde vir fatalistiese mense nie. Op min plekke in die Skrif vind ons ‘n gesprek so pragtig, so mooi, so vol belangrike gedagtes en so ingestel om te vertroos.

Jesus het hierdie woorde ‘n paar uur voor sy dood gesê, toe Hy en sy dissipels saam die laaste pasgamaaltyd in die bovertrek geniet het. Ek kan my daardie sombere oomblikke goed voorstel. Die paar olielampies wat lang skaduwees in die dofverligte vertrek gooi. Op die gesigte van sy dissipels en in hulle hart kon Hy sien dat hulle geweldig ontsteld was. Waaroor?

Vroeër die aand het Hy drie dinge gesê wat hulle ontstel het: Hy het vir hulle gesê Hy gaan van hulle af weg. Hy het gesê dat Judas Hom sou verraai. En Hy het gesê dat Petrus Hom sou verloën. Die dissipels het vir seker geworstel met die vraag: Wat wag op ons?

In die tyd toe die Here Jesus op aarde was, was daar ‘n belangrike groep onder die Grieke wat die Epikuriërs genoem is. Hulle het iets soortgelyks vir hulle volgelinge gesê. Amper iets soos: “Don’t worry, be happy!” Hulle het ook geglo dat ‘n mens kalm moet bly en jou nie moet onstel nie. Hulle motivering was egter heeltemal anders – omdat die gode, indien hulle wel bestaan, nie van jou kennis neem en nie in jou belangstel nie. Jesus se motivering is egter juis: Moet julle nie ontstel nie, want God ís in die hemel, en Hy het julle oneindig baie lief; Hy stel in julle belang; Hy gee vir julle om, en Hy hoor julle gebede.

Glo in Hóm.

Gebed: U is my wonderlike Heiland, Here. Ek bely dat ek in U glo. Amen.

Outeur:  Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.