Gedagte vir die dag: Ontvang om te gee

Skriflesing: “Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.” (Matt. 14:19)

Vir my bevat hierdie vers wonderlike woorde: Jesus het opgekyk na die hemel en die seën gevra. Dit was maar vyf eenvoudige garsbroodjies en twee vissies, maar Jesus was dankbaar en het God as die gewer daarvan erken.

Mag ons dankgebed vir wat ons het om te eet – in ons huis of in ’n restaurant – nie vergete raak of afgewater word nie. Kos, en die voorreg om dit te geniet, is altyd ’n gawe uit die hand van God. En ná Jesus se dankgebed gebeur die wonder: Jesus breek die brood, gee dit aan sy dissipels, en hulle deel dit aan die skare uit. Hier vind ons die essensie van die bediening van die kerk en van elke gelowige: ons kan die harte van mense nie vul as Christus óns harte nie eers gevul het nie. Net soos leë hande nie leë hande kan vul nie, kan ’n leë hart ook nie ’n ander leë hart vul nie. Ons het niks om te gee as ons nie eers van Christus ontvang het nie. Die wese van ons getuienis is om te vertel wat ons van God ontvang het. Ons het immers geen gawe om te deel, geen bediening om uit te leef as die Here self dit nie aan ons gegee het nie.

Dit laat my dink aan Petrus se woorde aan die verlamde man by die Skone Poort in Handelinge 3:6: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

Wat ek het…” Gee maar net wat jy van Hom ontvang het!

Gebed: Vul ook my hande en hart, Here, sodat ek dit aan ander kan uitdeel. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.