Gedagte vir die dag: Oop kaarte

Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel” (Mark 5:33).

Bewend en bang sit hierdie vrou wat pas van haar bloedvloeiing genees is daar voor Jesus en die skare op haar knieë… en sy vertel “vir Hom haar hele geskiedenis” (Mark 5:33). In die grondtaal staan daar sy het Hom “die hele waarheid” vertel.

God ís Waarheid en dit is slegs deur die waarheid dat ons waarlik die seën van die Here kan ervaar. Dis waarom Jesus gesê het “en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” (Joh 8:32). God weet alles – daarom maak die waarheid nie vir Hóm vry nie, maar vir óns. Met God moet ons “oop kaarte speel”. Dit help nie om jou kaarte vir Hom weg te steek nie. Dit kan jou en my net help om voor Hom die volle waarheid te vertel.

Markus sê hierdie vrou het vir Jesus haar hele geskiedenis, die volle waarheid, vertel – dalk iets soos die volgende: “Here, dis nou al twaalf jaar dat ek met hierdie uitmergelende en vernederende siekte loop. My man het my ná ’n paar jaar gelos. Gesê hy kan nie sy hele lewe bly by ’n vrou wat onrein is en alles en almal om haar onrein maak nie. Ek het al my spaargeld aan dokters uitgegee. Toe ook my besittings verkoop. Ek het niks beter geword nie. Inteendeel. Ek is moeg, Here. Ek kan nie meer nie. Ek is sosiaal uitgeban. Dis nou al twaalf jaar dat ek nie meer na die sinagoge kan gaan nie. Ek kan nêrens met mense meng nie. En net toe ek voel dis alles verby, ek moet maar ’n einde aan alles maak, hoor ek U kom hier verby. Ek wou nie pla nie, Here. Ek het net gedink: As ek maar net aan die soom van U kleed kan raak …”

Gebed: Ek wil my hele geskiedenis, my volle waarheid, vir U vertel, Here. Help my asseblief. Amen. 

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.