Gedagte vir die dag: Oorsake en Simptome

Mark 5:29: “En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was” .

Hierdie vrou se desperate geloofsuitreiking na Jesus het onmiddellike resultate opgelewer. Nie alleen het die simptome dadelik verdwyn nie: “Sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.” Die oorsaak van haar siekte is genees: “En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog” (Mark 5:29).

Ons is dikwels geneig om net die simptome van ’n probleem te hanteer. Dis soms makliker en geriefliker as om by die bron of die oorsaak daarvan uit te kom. Dikwels weet ons nie eens wát die oorsaak van ons probleem is nie, en daarom bou ons bloot dwarswalle in die stroom. Ongelukkig is dit net ’n kwessie van tyd voordat die dwarswalle ook maar oorstroom word en ons weer ’n volgende wal moet bou.

As gevolg van die psigiese en fisieke kompleksiteit en verweefdheid van die mens, is die mediese en geesteswetenskappe ook nie altyd in staat om presies te sê wat die oorsaak van ’n probleem of siekte is nie. Dan volg die een behandeling en medikasie op die ander, sonder dat daar by die werklike oorsaak uitgekom word. Al het ons opregte waardering vir die pogings en wonderlike hulp van die wetenskap, moet ons erken dat hulle soms bloot die simptome van ’n probleem kan behandel.

Wanneer God in jou lewe betrokke raak, vind jy egter uit dat Hy nie maar net die simptome wegneem nie. Hy laat die bron, die oorsaak van die probleem, verdwyn. En wanneer die oorsprong van ’n probleem opgeklaar word, is dit ’n voldwonge feit dat ook die simptome vroeër of later sal verdwyn. As dit waarlik God is wat in jou werk, sal jy uitvind dat Hy altyd volmaakte werk doen.

Gebed: Here, neem asseblief ook die oorsaak van my probleem weg. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.