Gedagte vir die dag: Opstanding uit die dood

Teks: Luk. 7: 14: “En Hy sê: ‘Jongman, Ek sê vir jou, staan op!’”

Die Bybel vertel ons van drie gevalle waar Jesus mense opgewek het uit die dood. Dit is natuurlik benewens Sy eie opstanding uit die dood wat uniek was, want in al die ander gevalle het die persone weer gesterf, maar Jesus het opgestaan en Hy leef tot in alle ewigheid!

Hier in Luk.7: 14 praat Jesus met die dooie jongman asof dit iemand is wat net slaap. Inderdaad is dit vir Hom nie moeiliker om iemand uit die dood op te wek as wat dit vir ons is om ʼn slapende wakker te maak nie. Trouens, jy sukkel dalk meer om jou seun of dogter in die oggend wakker te kry as wat dit vir Jesus was om hierdie dooie op te wek! (Joh. 11:25)

Jesus is nie net Heer van die lewe nie, maar ook van die dood. Omdat Hyself oor die dood en die graf getriomfeer het, kan Hy vir ons belowe dat dié wat in Hóm glo, sal lewe al het hulle ook gesterwe.

Hoor Hom sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Hierdie gebeure en woorde is ʼn voorafskaduwing van daardie groot dag wanneer die stem van die aartsengel en die basuin van God sal weerklink en die Here self uit die hemel sal neerdaal. (1Tess. 4:16) Wanneer Sy “Staan op!” nie net een nie, maar die liggaamlike oorskot van al die gelowiges deur die eeue sal laat opstaan, verheerlik en volkome om vir altyd saam met Jesus te wees!

As gelowiges is dit deel van ons troos en hoop wanneer ons ʼn geliefde se oorskot begrawe. ʼn Groot menigte was getuies van hierdie opwekking uit die dood (Luk. 7:12) – net om vir jou en my te bevestig dat ons geloof in Hom nie tevergeefs is nie.

Gebed: Here, dankie vir hierdie salige en sekere hoop oor die lewe ná die dood. Dankie dat die dooies ook eendag U stem sal hoor. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda Kruger ·

wat ‘n blye vooruitsig om te weet daardie dag gaan werklik aanbreek!!!
So ‘n voorreg om Sy kind te mag wees. Ook wonderlik om te weet dat Hy voordat hy opgevaar het na die Hemel vir Sy dissipels gese het dat niks nou meer vir hulle onmoontlik sal wees om te doen nie. Dat hulle al die wonderwerke wat Hy gedoen het ook sal kan doen en soveel meer. Ons moet dit net begin glo en dit doen sodat ons so kan help om ons wereld beter te maak.
Prys Sy groot Naam!!!!

H J Bester ·

En ons as aardse menslike wesens, gebroke vanweë die sondes, is so bevoorreg om die Meester te ken wie vir ons die dood en verdoemenis oorwin het. Dis slegs die Heilige Gees wie ons help om tot die geloof te kom en te weet dat onse Here Jesus die dood ingegaan het sodat ons vir ewig kan lewe. Mag ons elke dag Sy genade en liefde ryklik ontvang sodat ons Hom op ons gebrekkige wyse kan dien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.