Gedagte vir die dag: Ouerskap: nie kinderspeletjies nie

Eksodus 20:12– Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Een van die eerste opdragte aan die mens was om vrugbaar te wees en meer te word (Gen 1:28). Kinders is ʼn voortvloeisel van dié opdrag. Hulle is nooit ‘toevallighede’ nie en hulle bring noodwendig een of ander vorm van ouerskap te weeg. Eintlik is kinders ʼn gawe en seën van die Here.

Die Westerse kultuur is baie individualisties georiënteer. Vroeër was dit nie so nie. Mense is altyd gesien as deel van ʼn gemeenskap waar mense sorg gedra het vir mekaar en waar orde gehandhaaf is. Die huis of die gesin was die plek waar elkeen hulle plek geken het en ook hulle verantwoordelikheid binne groter verbande aangeleer het.

Ouers moes sekere verantwoordelikhede nakom: vir die eerste aantal jare het die ma die versorgingswerk gedoen en dan moes die pa sy drie-dubbele rol vervul:
• as koning moes hy kinders leer om ʼn beroep baas te raak – om in sy voetspore te volg. Hy moes ook gesag uitoefen;
• as profeet moes hy die Woord van die Here by sy kinders inskerp en hulle vertel van die pad wat die Here met hulle as volk gestap het;
• as priester moes hy vir hulle by God intree en offers op die huisaltaar bring.

Hierdie gebod vra eerbied vir ouers in die eerste plek. Dit kan beteken dat húlle so moet optree dat hulle eerbied-waardig is. Nie op grand van hulle posisie nie, maar omdat God dit aan hulle toegeken het. Die eerbied rus nie in die persoon van die ouer nie, maar in die verantwoordelikheid wat hulle opgelê is.

Die huis het vandag in baie gevalle net ’n eet- en slaapplek geword. Van ware gesinslewe kom weinig tereg. Mense in een huis skuur by mekaar verby op pad in of uit. Soveel so, dat rol van ouers vervaag het. In baie gevalle word die gebod omgedraai: Ouers, julle moet aan julle kinders gehoorsaam wees…!

Dit het tyd geword dat ouers weer hulle rol moet begin vervul. Dit gaan nie oor gewildheid by kinders nie, maar oor gehoorsaamheid aan God (Deutr 6:6-9). Huisgesinne en die samelewing sal hierby baat.

Gebed: Here, help asseblief elke gesin om mekaar weer te waardeer en te geniet. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.