Gedagte vir die dag: Plek van veiligheid

Gedagte vir die dag - bootjies op see - StruisbaaiVer uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ‘n rots waar ek veilig sal wees (Ps. 61 :3).

“Hardloop vir al wat julle werd is na die groot klipplaat toe,” het al die diere van die bos vir mekaar gesê toe daar ‘n vreeslike veldbrand uitbreek. Dit was die enigste plek van veiligheid. Op die klipplaat was daar niks wat kon brand nie, en die vuur het aan weerskante verbygegaan sonder dat enige van die diere wat daar geskuil het, iets oorgekom het. Hierdie dierefabel het ook vir ons ‘n pragtige les.

Dawid het ook na ‘n veilige plek gesoek. Ons weet nie wat die presiese omstandighede was nie, maar hy moes vlug na ‘n plek wat ver van die plek van aanbidding was. Dalk was dit toe hy vir Saul of vir Absalom moes vlug. Hy was hoogs ontsteld. Die teksvers praat van wanhoop. Menslik gesproke was daar nie vir hom hoop nie. Maar hy het aan die Here vasgehou. Die Here was die enigste Een wat hom nog kon red. Sulke tye is vir ‘n mens baie goed, want dan besef jy waar jou hulp eintlik te vinde is. Nie mense nie – hulle stel jou teleur – maar God is die antwoord. Dawid vra letterlik dat die Here hom na ‘n rots toe sal neem wat hoër as hyself is. Soos ‘n pa met ‘n klein kindjie, moet God hom optel en op ‘n plek van veiligheid neersit. Daar wil hy altyd bly, in God se teenwoordigheid (Ps. 61:5).

In die Here se teenwoordigheid is daar veiligheid en rus. Miskien voel jy ook vandag ontsteld en bekommerd. Miskien is jy ver van jou huis af. Soek dan die Here se teenwoordigheid. Iewers daar naby jou is ‘n plek van aanbidding. Gaan skuil daar by die Here.

Gebed: “Here, U ken my deur en deur. Dankie dat ek in moeilike tye by U kan gaan skuil.

Bron: Uit die Beek, 2012 – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.