Gedagte vir die dag: Plekke van genade

Joh 5:2-3: “By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes”.

“Betesda” beteken “Plek/Huis van genade”. Dank God! In Jerusalem, met al sy pyn en seer, was daar ’n Betesda, ’n “huis van genade”. ’n Plek waarheen die hooploses kon gaan. Dié wat nie by die primitiewe geneeshere – of by die tempel – hulp kon vind nie, het darem nog ’n laaste toevlug gehad. Al het almal nie gesond geword nie, was daar ten minste die hoop dat jy dalk eendag jou kans sou kon kry. Dink net: Die verlamde man in hierdie verhaal het al 38 jaar lank daar gelê.

Ja, God het nog altyd sy Betesdas gehad. Ook wanneer sy kerk – soos die tempel in Jerusalem – dikwels faal om ’n “huis van barmhartigheid en genade” te wees. Iewers is daar ’n plek, ’n groep gelowiges, ’n gemeente, waar seer en stukkende mense hoop en hulp vind.

Natuurlik wil God hê sy hele kerk moet ’n Betesda vir ander wees, dat elke gemeente in al ons stede en dorpe die funksie van Betesda in Jerusalem sal vervul. Daar is soveel gebrokenheid in ons samelewing, soveel mense wat wanhopig is. As die kerk net weer bekend kan word as “’n huis van genade”! John Maxwell het tereg gesê: “People don’t care how much you know, until they know how much you care.”

Dit moenie net van ons kerke waar wees nie, maar ook van ons as individuele Christene. Óns is immers die kerk van Christus! Ons leerstellings en standpunte is dalk heeltemal korrek, maar as ons nie iets van God se barmhartigheid en genade openbaar nie, faal ons grootliks om vandag ’n Betesda vir ander te wees.

Gebed: Help my en ons gemeente om vandag ook ’n Betesda vir ander te wees, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.