Gedagte vir die dag: Pragtige skaamteloosheid

Skrif: “Jesus antwoord: ‘Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.’ Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: ‘Here, help my!’” (Matt. 15:24-25)

Hoeveel van ons sou ná desperate en hoopvolle, maar futiele pogings om ʼn wonderwerk van die Here te ontvang, steeds aangehou vra het? Hierdie vrou gaan selfs nog verder. Haar smeking word meer intens. Sy openbaar wat Johannes Chrysostomus, die bekende kerkvader uit die vyfde eeu, “pragtige skaamteloosheid” genoem het. Sy kniel voor Jesus neer. Die 1953-vertaling sê sy het voor Hom neergeval.

Sien die beeld, daar in ʼn stofstraat in antieke Tirus: ʼn vrou wat haar smekend verneder in die stof aan die voete van Jesus. Haar smart is so groot, haar desperaatheid so intens – pragtige skaamteloosheid! ʼn Mens voel amper dat hierdie twee woorde nie saam gebruik kan word nie. Kan skaamteloosheid pragtig wees? Is dit reg dat ʼn mens so knaend by die Here kan aandring op iets? Of kan dit wees dat juis dít geloof in die uiterste vorm is, dat dit die Here nie aanstoot gee nie? Die einde van hierdie verhaal bevestig dit inderdaad.

Daar is ʼn algemene persepsie onder baie dat ʼn bulhond nie sommer los as hy eers vasgebyt het nie. Mense glo dat hierdie honde se kake as ’t ware sluit wanneer hulle vasbyt. Dit is waaraan hierdie vrou se desperaatheid en geloofsvolharding my laat dink. Sy was desperaat genoeg om Jesus in die geloof vas te gryp, net soos Jakob wat daar by die Jabbok met die Engel geworstel en gesê het: “‘Ek sal U net los as U my seën’” (Gen. 32:26).

Jesus gee uiteindelik te kenne dat hy nie aanstoot geneem het nie, maar dat hy eerder in verwondering oor die vrou se geloof is.

Gebed: Ek wil U onbeskaamd en desperaat vasgryp in die geloof, my Here. Amen.

Outeur: Isak Burger: President van AGS & SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.