Gedagte vir die dag: Proe die woord

Psalm 63:7,8,9b – As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ʼn hulp … Ek bly altyd naby U en u hand ondersteun my.

Romeine 10:8 – “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”

Ons verhouding met God is soms soos ʼn liefdesverhouding waar ons lankal die hoogtepunte en die intense belewenisse saam met mekaar verruil het vir die alledaagse. Tog bied hierdie seisoen waarin ons die geboorte van ons Redder vier ons die moontlikheid op ʼn geestelike hergeboorte.

Hoe kan ons nuwe lewe gee aan ons geloof? Daar is so baie wat jy kan doen. Gaan kuier ʼn slag in jou binneste saam met God. Proe sy Woord opnuut deur God se liefdesbriewe aan jou lees. Oral spreek die Bybel van God se verlange na sy skepsels. Al verlaat ons Hom of verruil ons Hom soms vir alles wat die aarde kan bied, hou Hy nooit op om sy arms uit te hou na ons om ons keer op keer terug te verwelkom nie.

Reik die hand uit oor daardie kloof wat vir watter rede ookal tussen jou en God ontstaan het. Skep vir jou ʼn gewyde ruimte by jou werk of in jou huis om jou te herinner aan die sakrale wat teenwoordig is in die alledaagse. Doen iets om jou hernude toewyding te bevestig. Besoek, bel of breek ʼn broodjie saam met iemand in nood. Of lees ʼn slag ʼn boek wat jou uitdaag om nuut te dink oor jou geloof. Steek ʼn kersie op aan die etenstafel vir die wêreld of vir iemand wat jy weet dit nodig het.

Nog makliker – glimlag vir iemand, betoon simpatie of spreek ʼn woord van bemoediging. Bo alles, wees vrygewig. Al doen jy enigeen van hierdie dinge aan die wat nie geag word nie, doen dit asof jy dit vir God doen. Dit is die ware gees van Advent – of die Verwagting.

Gebed: Here, gee dat ek in ʼn staat van afwagting sal verkeer terwyl ek gereed maak vir ʼn hergeboorte van geloof. Open die vensters van my siel dat die vars bries van u teenwoordigheid my binneste kan vul. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.