Gedagte vir die dag: Rus in die Here

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor damEk moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen. (Ps. 116:7)

Om vandag niks te doen nie het bykans ’n sonde geword. Om te rus word gesien as ’n swakheid, ’n gebrek aan ambisie. Maar die Here sê vir ons ons moet rus. Dink maar aan die bekende Psalm 23 – ons lees daar: “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag” (v 2-3). Wat ’n wonderlike gedagte om te dink die Here self gee vir ons krag!

Maar daarvoor moet ons by Hom stil word. Bêre vir ’n rukkie jou selfoon, iPad of rekenaar. Sit daardie verslae eenkant en vergeet vir ’n oomblik van strategieë en planne. Daar is niks belangriker in die lewe as om stil te word by Hom en na sy stem te luister nie. Dit is ongesond om die hele tyd besig te wees. Die wêreld sal nie vergaan as jy vir ’n rukkie ontspan en afskakel nie. Jy kan meer gefokus raak en dalk nuwe oplossings vir probleme raaksien; jy kan geduldiger word met geliefdes.

Word stil – jy kan net wen.

Bron:
Hoor die hartklop van God deur Andries Enslin
Uitgewer:   Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jean ·

Eintlik gaan die hele psalm 116 oor God se reddingsplan en die dankbaarheid wat volg. Die man se siel kan nou tot ruste kom want God is genadig en hy is nou van die hel verlos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.