Gedagte vir die dag: Rus is ʼn mág en ʼn móét

sonsopkoms_rustig_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: pixabay.com)

“Al God se werk was afgehandel. Op die sewende dag het Hy toe gerus van al die werk wat Hy gedoen het. God het dié dag geseën en gesê dit moet afgesonder wees van die ander ses dae” (Genesis 2:2b, 3).

Skrifgedeelte
Genesis 2:2b, 3

Oordenking
Party van ons kan eenvoudig nie rus nie. Iewers in ons is daar altyd ʼn stemmetjie wat ons wil herinner aan wat ons nog moet doen, of wat ons skuldig laat voel oor “niks”-doen.

As jy ook een van daardie mense is wat altyd aan die rondhardloop is, kan jy gerus weer Genesis 2:1-3 lees, waarin die Woord vir ons vertel dat God – ja selfs Hý – gerus het. Hy het ʼn hele dag in die week afgesonder om van sy werk te rus.

Jy het rus nodig. Jy het nodig om soms net niks te doen nie. Jy het nodig om weg van doen-dinge af, rustig te wees sodat die Gees kan kans kry om in jou te werk. Jou liggaam, siel en gees het nodig om tot stilstand te kom sodat jy kan ervaar hoe lief jou Vader jou het, sodat jy kan hoor wat Hy vir jou beplan en sodat jy moed kan kry om te wees, dit wat jy nog kán wees.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.