Gedagte vir die dag: Rus

kneel-before-the-crossPsalm 62:2,6: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” (NAV)

Ons het gister gesels oor hoe volgeprop ons programme is dat ons nie uitkom by mense (en God) nie. Die dissipels van Jesus se program is egter juis gevul met mense. Hulle word uitgestuur om mense te bedien met prediking, om duiwels uit te dryf, siekes te salf met olie en hulle te genees. Hulle is ook nie oral gasvry ontvang nie en moes heel moontlik met tye sommer in die oop veld slaap. En dan was daar nog die kwessie dat alle mense nie na hulle wou luister nie. Nie juis ‘n ontspanne uitstappie nie!

Geen wonder nie dat Jesus by hulle terugkeer aan hulle sê: “Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie.”(Markus 6:31). Let op – dit is ‘n rus van eenkant-kom, weg van besig-wees, ‘n rus in Sy teenwoordigheid
Jy sien, Jesus verstaan dat werk – enige werk – die mens moeg maak en dat rus nodig is om te herlaai. Was Hy dan nie deel van die proklamasie van ‘n rusdag na die skepping nie? Hoe is dit dan dat óns dit nie ernstig opneem nie?

Ons rus fisies wanneer ons op die bed lê ja, ook wanneer ons eenkant gaan, maar ons rus in ons menswees as ons bewus word van Sy teenwoordigheid in en by ons. Dan word ons gelag, ons saamspeel met geliefdes, ‘n koppie koffie of die oopmond staar na ‘n sonsondergang, meer as net rus. Dit word ‘n genieting van die gawe van die lewe; ‘n rus teen Sy bors.

Ek en jy het egter nodig om te leer hoe om in Christus te rus. Hy het vir ons ‘n oop uitnodiging gegee: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en My las is lig (Matt 11:28-30).
Hier praat Jesus oor die rus van jou innerlike menswees, daardie deel waarmee jy met Hom in verhouding staan. Hierdie verhouding doen weg met alle prestasie en werke wat om MY draai en verskuif die fokus na wat en hoe Hy dinge deur en vir my doen.

Graveer hierdie op jou hart: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” (NAV)

Gebed: Vader, dankie dat U die Outeur van rus is – rus van my fisiese werk, maar veral ook rus in my siel. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.