Gedagte vir die dag: Rut en Naomi – Naomi se liefdevolle opoffering

Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkome gee.” Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil.  Rut 1: 8-9

Dit is een van die bekendste verhale van lojaliteit en liefde – die verhaal van Naomi, ‘n Israelitiese vrou wat as gevolg van ernstige hongersnood in haar eie land gedwing is om in Moab te woon, en haar Moabitiese skoondogter, Rut.  Eers is Naomi se man, Elimelek, oorlede en toe haar twee seuns. Die hongersnood in haar land was verby en sy besluit om na Juda terug te keer, maar sy bevind haarself in ‘n dilemma.

Volgens die wette van die tyd, wanneer ‘n getroude man sterf, moet sy broer met sy weduwee trou, wat dan sou beteken dat alle kinders wat uit hierdie tweede huwelik verwek word, gereken sou word as afstammelinge van die broer wat gesterf het.  Die eersgebore seun van hierdie tweede huwelik is steeds as die van die oorlede man gereken en hy sou dan ook al die eiendom en regte van die oorlede man erf.

Hierdie gebruik het die weduwee beskerm.  Andersins sou sy miskien sonder vriende en heenkome agtergelaat word.  Hierdie wet het verder bepaal dat indien die man geen broers het nie, die naaste manlike familielid hierdie plig moes nakom.

In Naomi se geval, om enige afstammelinge te kon hê en om versorg te wees, moes sy haar skoondogters vra om met haar man se naaste lewende manlike familielid te trou.  Maar sy doen dit nie.  Naomi maak ‘n onselfsugtige opoffering en stel Orpa en Rut vry van hierdie verantwoordelikheid.  Sy dink net aan hulle welstand en sy sê aan hulle om by hulle eie mense en familie in Moab te bly.

Dit kon nie ‘n maklike besluit gewees het nie – sy het haar eie toekoms opgeoffer ter wille van haar skoondogters.  Môre kyk ons na die reaksie van Rut en Orpa.

Gebed: Dankie vir Naomi se onselfsugtige voorbeeld.  Here, help my om ook die behoeftes van diegene wat ek liefhet voor my eie te stel.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.