Gedagte vir die dag: Rut en Naomi – Rut se offervaardige lojaliteit

Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat.  Rut 1:16-18

Die meeste staaltjies wat mense deesdae oor skoonma’s vertel is nie baie positief nie!  Dit is gewoonlik grappies en stories oor iemand wat jy maar verdra omdat jy moet, en definitief nie omdat jy wil nie.  In die pragtige uitdrukking van toewyding en lojaliteit hierbo, is dit duidelik dat Rut se houding jeens haar skoonmoeder baie anders was.  Rut se lojaliteit teenoor Naomi strek baie verder as wat van haar as aangetroude familielid verwag kan word.

Naomi het vir Rut ‘n kom-gratis-uit -die tronk-kaart gegee.  Rut kon ook soos Orpa terug na haar eie mense toe gegaan het, sonder dat iemand sleg van haar sou dink.  Maar Rut se liefde vir Naomi en haar God, maak dat sy nie haar skoonma die rug toekeer nie.

Miskien het Rut onthou dat Naomi ‘n baie moeilike tyd in Moab beleef het. Sy besef dat haar skoonmoeder ‘n dekade weg van haar land was, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land en dat sy boonop treur oor die verlies van haar man en seuns. Rut weet egter dat as sy by Naomi bly die bordjies verhang gaan word – sy (Rut) gaan nou die vreemdeling wees, sy gaan haar mense verlaat.  Maar sy gee nie kop nie.  Sy is gewillig om dieselfde swaarkry as Naomi te beleef, om in haar swaarkry en hartseer te deel.  Dit is ook duidelik dat Rut Naomi se God leer liefkry het en dat sy die Moabitiese gode vIr die ware God versaak het.

Gebed: Hemelse Vader, help my om empatie met my vriende te hê, om hulle in moeilike tye te ondersteun en om altyd lojaal te bly.  Dankie vir vriende wat my inspireer om U nog meer lief te hê. Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.