Gedagte vir die dag: Rykdom kan nie tevredenheid waarborg nie

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

Lees: Spreuke 23:1-11

Moenie jou afsloof om ryk te word nie. As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg. Dit sal vlerke kry soos ’n arend en wegvlieg in die lug. (Spreuke 23:4-5, NLV)

“Hy wat nie geld het nie, is arm. Hy wat nét geld het, is nog armer,” lui ’n anonieme aanhaling. En daar is ’n Japannese spreek woord wat sê: “Hy wat tevrede is, is ryk genoeg.”

Die storie word vertel dat mense by Rockefeller wou weet hoeveel geld dit neem om iemand gelukkig te maak. Sy antwoord was: “Net nog ’n bietjie meer.” Net soos rykdom nie geluk kan koop nie, kan dit ook nie ’n tevrede mens van jou maak nie. Ongelukkig het almal van ons ’n bietjie Rockefeller in ons. Ons meen dat ons tevrede sal wees as ons net ’n bietjie meer geld kon hê, net ’n beter werk kon kry, net gesonder kon wees. Baie min van ons is tevrede met hoe ons lyk of met die talente wat ons van God ontvang het. Ons bly smag na groener weivelde, na meer en beter.

Vandag se kernverse bevat ’n tydige waarskuwing vir ontevrede mense: Dis onnodig om jou af te sloof om ryk te word, want rykdom is ’n vlietende ding. Dit kan nie tevredenheid koop nie, jy verloor dit maklik en jy kan dit ook nie saamneem as jy eendag doodgaan nie. Onthou altyd dat jou aardse rykdom van God kom. Eintlik is jy net die rentmeester wat Hy daaroor aangestel het. Gebruik dus jou geld op die regte manier deur ander te help wat minder as jy het.

Here, ek wil graag ’n goeie rentmeester vir U wees. Maak my tevrede met my besittings en weerhou my daarvan om rykdom in alles na te streef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Isabel Bothe ·

Hierdie lig die dinge wat regtig saakmaak vir n sinvolle aardse bestaan pragtig uit.Dankie vir die positiewe boodskap van geloof en hoop in díe deurmekaar dag tot dag lewe
is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.